Hennie Symington

'n Lied van Dawid. Hy het hom kranksinnig gehou by Abimelek. Dié het hom weggejaag en hy het padgegee. Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees. Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys. …  Psalm 34:1-8

Soms raak ‘n mens so moedeloos met die wêreld. Die televisienuus is ons gids vir elke dag. Ons word uur vir uur op hoogte gehou van wat in die wêreld gebeur. Ons word gekonfronteer met geweld, armoede, gerugte van oorloë, korrupsie en ‘n lys van ander euwels. Genoeg om enigiemand op hol te jaag.

Gelukkig is dit net die eenkant van die verhaal. Die tye waarin ons leef is ook ‘n tyd van wonderwerke wat die lewe laat gedy. In die mediese wêreld gebeur daar ongelooflike wonderwerke. Blindes kan sien, nuwe harte klop in die plek van oues, kanker word hokgeslaan - noem maar op.

As hierdie bedreigings jou op hol jag, maak die Bybel oop en lees daar hoe die Israeliete gevoel het op die vooraand van hulle intog in die land Kanaan. Kyk terug oor jou lewe en sien hoe God vir jou gesorg het. Aanvaar dan dat God by jou gaan wees in die toekoms net soos Hy by jou was in die verlede.

Gebed: Here, U is die getroue vader wat ons deur diep waters en deur en swaarkry gedra het. Here, gee dat ons sal vertrou dat U ons altyd in die palm van u hand hou.