Hennie Symington

Ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer nie. Efesiërs 4:14

Hoekom dwaal ons so graag?

Aan die eenkant is ons as moderne mense, so gesteld daarop om die regte ding te doen. Tog is ons so argeloos wanneer dit kom by die instrukies vir die lewe. Ons glo dat Vrydag die dertiende 'n ongelukkige dag is, en dat die toordokter se doepa my gaan opkikker. Daar is talle dinge wat niks te make het met geloof, wat ons onvoorwaardelik glo terwyl God se beloftes vir my heeltemal te moeilik lyk om te aanvaar, daarom jaag ek elke nuwe lering na en val vir elke truuk in die boek, byvoorbeeld dat 'n goeie selfbeeld die belangrikste sleutel tot sukses is, of dat ek so slim en so ryk is omdat ek my kant by die kerk bring. God wil tog seker die beste vir sy volgelinge gee, glo ons.

Die probleem is dikwels dat ons nie die “gebruiksaanwysings” naslaan wat duidelik opgeteken staan in God se Handboek en dit ter harte neem nie. Dink daaraan, dat die belangrikste in ons lewe, die lewe self is. Tog pak ons dit blindelings aan of maak staat op hoorsệ in plaas daarvan om die gebruikersgids na te slaan. God het volledige aanwysings vir jou nagelaat in die Bybel sodat jy dit kan bestudeer en daaruit kan agterkom hoe God met die mens en die skepping omgaan.

Gebed: Here, soms is ons as sogenaamde slim of geleerde mense maar baie dom wanneer dit by die lewe kom. Gee my insig, verstand en geloof om my pad deur die komplekse moderne “oerwoud” van lewe te vind. Laat u lig op my pad skyn. Amen