Hennie Symington

'n Betroubare getuie lieg nie; 'n vals getuie vertel een leuen na die ander. Spreuke 14:5

Het jy geweet dat meeste mense ten minste twee maal 'n dag jok en dat mans en vroue ewe veel jok. Hoewel die meeste mense lieg sonder om te blik of te bloos, is mense nie gelukkig oor die leuens wat hulle vertel nie. Die leuenverklikker wat jou vlak van angstigheid meet as jy jok, is 'n duidelike bewys hiervan.

God het gelukkig nie 'n leuenverklikker nodig nie. Hy het Adam en Eva sommer gou aan die kaak gestel toe hulle jok oor wie nou eintlik die paradysvrug gepluk het.

Wie jok nie?

Daar’s ongelukkig niemand wat nie by tye jok nie. Die feit is, as jy onder genoeg druk verkeer sal jy jok, maar die wat jok sonder om skuldig te voel is die gevaarlikste leuenaars.

Of jy nou 'n goeie leuenaar is of 'n leuenaar wat net onder druk leuens vertel, onthou net, jy sal moet rekenskap gee van die leuens wat jy vertel. Jy sal moet kan sê: “Ek was vandag oneerlik. Ek het ander en myself mislei en ek voel nie lekker daaroor nie." Jy kan kies om leuens deel van jou leefwyse te maak of om oop en eerlik voor God en mens te leef. Die keuse is joune.

Gebed: Here, hoe maklik is dit nie vir ons om onwaarhede te verkondig nie. Gee dat ons sal begryp dat leuens skade aanrig, nie net aan ander nie maar ook aan die een wat die leuen verkondig. Amen