Hennie Symington

Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Matteus 12:34

Of jy dit nou wil glo of nie, 'n mens word geken aan elke woord wat uit sy of haar mond kom. Die spreukwoord, “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor” bly 'n onomwonde waarheid.

'n Mens word geken aan elke woord wat uit jou mond kom: jou woorde reflekteer wie en wat jy is. Een woord spreek boekdele. Vra jou af, hoe kommunikeer ek met ander. Sommige van ons het om die waarheid te sê, meer as een spreekwyse. Hoe praat jy met jou kinders? Ag jy hulle of jak jy hulle af wanneer jy nie lus het om met hulle te praat nie. Hoe praat jy met jou geliefde of eggenoot?

Elkeen van ons het sekere taalregisters. Met my baas praat ek so, en met my man, vrou of kinders praat ek sus en met die huishulp, of die bedelaar op straat praat ek so min as moontlik. Ons verval al te maklik in 'n sekere manier van praat met sekere mense. Die Bybel waarsku ons dat die tong 'n vuur is. Jakobus beskryf die tong as volg: "Dit is 'n rustelose kwaad, vol dodelike gif… uit die een mond kom lof en vloek." (Jakobus 3:8-9)

Wanneer jy met mense praat, sien hulle raak. Hoor hulle en ag hulle. En moenie skinder nie.

Gebed: Here, soms is ons tong ons grootste struikelblok. Ons praat voor ons dink en maak en breek met woorde. Leer my om my tong in toom te hou. Amen