Hennie Symington

Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder. Romeine 14:19

Wat is die teenoorgestelde van 'n vredemaker? Ons almal ken die woord: 'n moeilikheidmaker. Dis daardie mense wat altyd skoor soek.

In werklikheid is ons almal moeilikheidmakers. Ons ken almal mense wat moeilikheid maak waar hulle gaan. Miskien is jyself iemand na wie almal verwys as die “duiwel se sussie”.

Eintlik is ons almal maar moeilikheidmakers. Die moeilikheid het al begin by ons oer oumagrootjie. Dis mos Eva wat die “appel” aan die rol gesit en die disharmonie in die paradys veroorsaak het. Van toe af al was die mens vol boosheid en haat. Eers slaan Kain vir Abel dood, Dawid vermoor Batseba se man sodat hy haar vir hom kan vat, en Herodes vermoor al die klein seuntjies wat so oud soos Jesus was.

Paulus som dit so op in Romeine 3:10: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie."

Christus verlang egter van ons om vrede na te jaag instede van om moeilikheidmakers te wees. Wees vandag 'n vredemaker.

Gebed: Here help my om vandag 'n vredemaker te wees. Amen