Louise Gevers

Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy is ’n skild vir almal wat by Hom skuil. Want wie is God buiten die HERE, en wie ’n rots buiten onse God?

2 Samuel 22:31-3, 1933/1953-vertaling

“Vlekkeloos" is nie 'n woord wat algemeen gebruik word nie, maar 'n ruk gelede het 'n bekende juweliersfirma vlekkelose diamantringe geadverteer. Die waarheid is egter dat diamante, as gevolg van die natuur se uiterstes en onstabiele hitte- en druktoestande waardeur hulle gevorm word, nooit vlekkeloos is nie. Selfs die wat vir die blote oog pragtig helder lyk, bevat onsuiwerhede wat met 'n vergrootglas waargeneem kan word. Dinge is nie altyd soos dit lyk nie.

Miskien verskil ons nie baie van diamante nie. Dit maak nie saak hoe gepoleerd ons uiterlike mag voorkom nie, almal is op een of ander manier deur lewensondervindinge bederf, dikwels verkry deur die druk van onstabiele toestande. Soos Adam en Eva, ly ons ook as gevolg van ons eie moedswilligheid en laat selfs toe dat dit ons wêreld beïnvloed en dit onder druk plaas. Die realiteit van aardverwarming en die vrese wat deur siektes, konflik en armoede veroorsaak word, herinner ons daagliks aan ons onvolmaaktheid.

Ons teksvers sê dat God is 'n "skild vir almal wat by Hom skuil." Sy woord is vlekkeloos en sy integriteit beskerm ons want ons kan sy waarhede vertrou. Wanneer ons Hom nodig het, kan ons Hom in die bladsye van sy Woord vind en, as ons gewillig is, sal sy Gees met ons praat en met die krag wat ons denke, harte en lewens kan verander ons met wysheid en guns lei.

Hoe meer ons met die Bybel omgaan, hoe meer word ons bewus van hoe sy groot krag as die Skepper van die heelal balanseer met sy volmaakte liefde wat Hy as ons Hemelse Vader vir ons het. Dit gee ons hoop en laat dit groei. Ek kan nog die blydskap en vreugde onthou van die dag toe ek besef het dat God volmaak is. Niks is te moeilik vir Hom nie! Die waarde van sy volmaakte seëninge in ons onvolmaakte lewens is uiters kosbaar, dit is 'n ware geskenk as gevolg van wie Hy is.

Hierdie maand wat ons Paasfees vier, is die regte tyd om oor God se volmaakte weg na te dink en na Hom uit te reik. Hy het beloof: " En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind, …" (Jeremia 29:13-14)

Gebed: Kosbare Hemelse Vader, ons staan in verwondering voor u majesteit en mag. Ons verheug ons oor u volmaakte weg en vlekkelose Woord. Help ons om meer in ons liefde vir u Woord te groei en u liefde vir ons meer te waardeer. Ons bid dit deur Jesus Christus ons Here. Amen