Charlea Grey 

Julle sal vra dat Ek julle moet help, julle sal aanhou bid tot My, en Ek sal julle hoor. Julle sal My soek en julle sal My kry, want julle sal My soek met julle hele hart. Jeremia 29:12-13, Bybel vir Almal
 
Dis ook maar eers vandat ek self ’n ma is, wat ek werklikwaar begrip het vir God se Vaderhart. Ek verstaan nou eers hóé groot en diep sy liefde vir ons moet wees – en tog besef ek dat dit heel waarskynlik nóg groter en dieper is as wat ek dink.
 
Wanneer ek ons dogtertjie in die vroeë oggendure in haar kamer hoor kreun, wag ek vir ’n oomblik. Ek wil haar nie steur as sy dalk droom nie. Maar wanneer ek daai fyn stemmetjie huilerig hoor roep “Mamma ... mamma ...” spring ek onmiddellik op om ondersoek in te stel. Sê nou sy is koorsig, of kry koud? Sê nou sy kry te warm of het haar fopspeen verloor? Sê nou sy is bang vir die donker? Dalk voel sy alleen?
 
Ek kan haar nie net los nie. Dis vir my fisies onmoontlik want ek is haar ma.
 
Dan gaan loer ek saggies in. Soms help ek haar net om haar fopspeen te vind, dan slaap sy salig verder. Soms maak ek haar met ’n ekstra kombersie toe. Sy weet nie eers ek is daar nie, maar sy voel warmer en rustiger. Soms moet ek haar optel en vashou en soms moet sy verder in ons bed kom slaap.
 
Dit was een van die waardevolste dinge wat ek besef het oor God se getrouheid, oor sy liefde vir ons: Hy hoor ons. Hy is daar as ons in die donker roep, selfs al kan ons Hom nie dadelik sien nie. Hy sal ons toevou met sy liefde en teen Hom vasdruk wanneer ons Hom nodig het.
 
Hy los ons nooit, want Hy is ons Vader.
 
Gebed: Dankie Vader dat U altyd daar is as ek na U roep. Dankie dat U weet wat ek nodig het en dat U ook daar is wanneer dit donker is en ek U nie kan sien nie. Amen.