Die Onse Vader-gebed (5)

Quintus Heine

Matteus 6:11 "Gee ons vandag ons daaglikse brood."

In die vorige drie bedes in die Onse Vader-gebed het dit oor God gegaan, die volgende drie bedes gaan oor ons behoeftes. Noudat God se eer, heiligheid en sy wil gesoek is, kan ons met vrymoedigheid vir ons eie behoeftes bid. Andrew Murray sê: "Nadat gelowiges in die eerste bedes hulself aan God toegewy het, het hul hierna die wonderlike vryheid om vir God te vra na hulle tydelike behoeftes."

Met die begrip "daaglikse brood" word ons basiese lewensbehoeftes bedoel. Brood dui nie op oorvloed nie, maar op noodsaaklikheid. Dit gaan nie hier slegs oor kos nie, maar al ons basiese behoeftes. Ons bid hier vir die Here se voorsiening, versorging en bewaring. Iemand het gesê deur hierdie basiese gebed te bid, leer die Here ons om los te kom van ons geneigdheid tot hebsug en gierigheid. Dit is 'n gebed dat ons tevrede sal wees met wat Hy skenk en dat ons, ons lewenstyl dienooreenkomstig sal inrig. Dit is nie verkeerd om ambisie te hê nie, maar in ons strewe na meer vergeet ons om dankbaar en tevrede te wees met dit wat ons het. Met die gebed vra jy dat die Here vir jou sal sorg.

Die gebed om ons daaglikse brood, is ook 'n erkenning van ons afhanklikheid van God.  Ons raak so maklik selfversorgend dat ons vergeet dat ons basiese behoeftes om te bestaan, in God se hande is. Ons beskou die voorsiening in ons daaglikse behoeftes as vanselfsprekend en vergeet Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo (Jakobus 1:17). Elke bietjie of baie wat jy het, kom van God. Dit moet ons nooit vergeet nie!

Die "ons" beteken dat ons ook betrokke moet raak by ons broers en susters wat swaarkry. Ons is die hande en voete van God. Ons moet die gebed gaan uitleef en as kinders van God betrokke raak by die ellendes van die samelewing, dat ons moet help om in ander mense se basiese behoeftes te voorsien waar ons kan.

Ja, dankie, Here, dat ons met vrymoedigheid ons basiese behoeftes van U kan vra, maak ons dankbaar vir wat ons het. Help ons om ook aan ons broers en susters, wat minder as ons het, se basiese behoeftes te help voorsien.

Volg ons gerus op twitter: https://twitter.com/bybelgenootskap

Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.