Genade, onbeskryflik groot.

Dirk Taljaard

Skriflesing:

1 Tessalonisense 5:15 en 18

15 Sorg dat niemand 'n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense. 18 Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

Vergifnis, genade en dankbaarheid is karperde. Genade is die basis op grond waarvan vergewe word, en dankbaarheid is die praktiese uitvloeisel daarvan. Maar, dis makliker om hieroor te praat en te skryf, as om dit uit te lewe.

In die Ou Testament was dit in 'n sekere sin makliker. Daar het voorskrifte gegeld wat dit duidelik uitgespel het wat gedoen kon word wanneer iemand benadeel is. Ons ken die bekende uitdrukking, waarna Jesus ook verwys het: 'n oog vir 'n oog, en 'n tand vir 'n tand. Dit het behels dat iemand 'n ander in eie munt kon terug betaal vir skade wat berokken is. En daarmee was die saak besleg en afgehandel. Geen haan kon weer daarna kraai nie.

Maar Jesus het ons kom leer dat vergifnis 'n baie beter - hoewel moeiliker - opsie is. Een kwaad kan tog nie regtig 'n ander kwaad uitkanselleer nie. Waar eindig mens uiteindelik op as daar 'n bose kringloop ontstaan van vergelding? Vergifnis, wat uit genade voortspruit, verwyder die angel, die gif uit 'n situasie deur presies die teenoorgestelde te doen as wat verwag word. Om nie te gee wat die ander 'verdien' nie. Of, om te gee wat die ander nie 'verdien' nie. Want, dis wat genade impliseer: om kwyt te skeld, om oor die hoof te sien, ongeag die prys, ongeag die opoffering. So dien jy nie net die belange van ander nie, maar doen jy wat Jesus Christus kom voorleef het: Deur sy genade is ons vergewe. Wie dus nie kan vergewe nie, verstaan nie dankbaarheid nie, en allermins genade.

Ons is al gekondisioneer deur die oorbeklemtoning van sogenaamde menseregte. Dit het 'n baie gevalle in 'n euwel ontaard omdat sekere mense letterlik met moord wegkom deur agter die Grondwet weg te kruip, soos mense in die Ou Testament die wet as skild gebruik het.

Sal ons land nie baie beter daar uitsien as ons elkeen eerder ons verantwoordelikhede teenoor mekaar nakom nie? As ons eerder die evangelie van genade sal aanvaar en deel maak van ons alledaagse lewens? Ook vandag.

Gebed:

Here, laat asseblief u genade oor my spoel vandag sodat ek genade kan betoon - uit dankbaarheid vir u vergifnis.