Benescke Janse van Rensburg

'n Gesegde het onlangs my aandag getrek: "Voordat jy jouself geestelik of gelowig noem, leer eers om goed vir jou medemens te wees." Ons Springbokkaptein, Siya Kolisi en sy vrou Rachel het in verlede week aan ons almal gedemonstreer hoe 'n goeie daad 'n lewe kan verander.

Met die aanvang van die Springbokke se oorwinningstoer na die Rugbywêreldbeker deur die strate van Suid-Afrika, het hulle by die Helpmekaar Kollege 'n draai gemaak. Hiér is 'n jong, 15-jarige seun, Lebo Mogoma, op kamera vasgevang waar hy nie sy trane kon beheer nadat sy held, Siya Kolisi sy tokse vir hom geteken het nie. Die video het soos 'n veldbrand op sosiale media versprei.

Met die BrightRock Players Choice Awards wat verlede Dinsdag by Hyde Park in Johannesburg aangebied is, het Siya en sy vrou Rachel moeite gedoen om Lebo op te spoor en hom en sy ma saam te nooi na die geleentheid. Om dit selfs nog meer spesiaal te maak, het hulle met Lebo se ander held, Cheslin Kolbe gereël dat Lebo saam met Siya op die verhoog kon stap om namens Kolbe sy prys vir beste agterspeler van die jaar te gaan afhaal. Kolbe kon nie die geleentheid bywoon nie.

Vir Lebo en sy ma was dit 'n rowwe jaar. Die Kolisi-egpaar het na afloop van die geleentheid gesê dat hulle hoop hierdie "klein aksie van goedheid" sal 'n ligpunt vir hulle in hul situasie wees.

Dit is soms die klein dingetjies wat die grootste verskil in ander se lewens kan maak – 'n vriendelike woord, 'n onselfsugtige uitreik, 'n glimlag. In Spreuke 3:27 lees ons: "Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie."

Goeie dade bring ons nie in die hemel nie; 'n verhouding met Jesus Christus doen. Tog, vriendelike optrede of goeie dade ontsluit mense se koue harte. Dit veroorsaak dat hulle die warmte wat uit ons harte as gelowiges behoort te skyn, begin begeer. Kom ons hou op om net "geestelik" te wees en demonstreer aan ander (sonder woorde) wie hierdie Jesus is wat ons aanbid. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U liefde en genade. Wys my asseblief geleenthede waar ek hierdie liefde praktiese aan ander kan demonstreer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

· Sien foto van Lebo en die Kolisi-egpaar:
  o Webtuiste: www.benescke.co.za
  o Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop
  o Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop

· Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.