Neville Turley

Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, ... Maleagi 3:1

Dit is maklik om te verstaan hoekom baie mense dink dat ons lewens bepaal word deur wisselvallige geluk. Die lewensverhaal van Johannes die Doper bewys egter die teenoorgestelde.

Ons word nie per ongeluk gebore nie; God het 'n plan en 'n doel met elkeen van ons. Die engel Gabriël het God se plan vir Johannes se lewe aan sy pa, Sagaria geopenbaar. Johannes moes 'n voorloper vir Jesus wees. Hy sou die laaste van baie profete wees wat oor die koms van die Messias profeteer en die belangrikheid van die kinders van God om gereed te wees om Hom te ontvang, sou beklemtoon. Sagaria, 'n priester by die tempel, het tydens die besnydenis van Johannes soos volg geprofeteer: “En jy, kindjie, 'n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uit gaan om sy pad gereed te maak, om kennis van verlossing aan sy volk mee te deel: verlossing deur vergifnis van hulle sondes, danksy die genadige ontferming van ons God. ...“ (Lukas 1:76-78)

Johannes het God se plan en roeping ten volle uitgeleef. As die seun van 'n gerespekteerde priester kon hy seker 'n gemaklike lewe gelei het, maar instede daarvan het hy gekies om hom volkome aan die diens van God te wy. Hy het 'n gedissiplineerde lewe gelei en het 'n wegwyser na God vir mense geword. Hy het die noodsaaklikheid beklemtoon dat mense hulle moet bekeer sodat God hulle sondes kon vergewe. Diegene wat dit gedoen het, het hy gedoop.

Johannes het Jesus erken en aanvaar as die beloofde Messias – die Seun van God (Johannes 1:34) en dit was die hoogtepunt van sy bediening. 'n Voorloper was nou nie meer nodig nie want die Messias het gekom. “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef." (Johannes 1:45)

Dit is my vurige hoop dat wie ook al vandag hier lees, ook al vir Jesus erken en aanvaar het. Dit is die eerste stap om God se plan en doel vir jou lewe te ontdek.

Gebed: Here, ons dank U vir die lewe en getuienis van Johannes die Doper. Skenk aan ons die genade om, soos hy, deur ons lewens wegwysers vir ander na Jesus te wees. Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen