Neville Turley

Ons vertrou op die Here: Hy is ons hulp en ons beskermer.  Psalm 33:20

Psalm 33 is 'n pryslied wat mense oproep om die Here, die Skepper van die heelal, te loof en prys. Hy is in beheer van die lotsbestemming van die mens en van al die planne van die nasies. Die psalmdigter roep ons op om as kinders van die Here in ons geloof te jubel en op Hom te vertrou.

Dit is raad wat ons gerus kan volg en daar is geen beter tyd as nou nie.

Ons is op die drumpel van 'n nuwe jaar. In feitlik elke land is die begin van 'n nuwe jaar gewoonlik die tyd waar mense terugkyk op die ou jaar, daaroor nadink en hulle nuwejaarsvoornemens maak.

Ongelukkig teen middel-Januarie met die opwinding van die feestyd byna vergete en met die werklikheid van elke dag wat weer inskop, bly baie van die goeie voornemens in die slag. Die vakansieseisoen is verby en ons moet weer die uitdagings van ons daaglikse realiteite hanteer.

Navorsers is voortdurend besig om hier in ons land en in die res van die wêreld omstandighede wat ons lewens kan beïnvloed, te analiseer. Is ons ekonomie besig om te verswak? Kan inflasie onder beheer gebring word? Hoe kan die belange en veiligheid van burgers bevorder word? Hoe kan korrupsie en misdaad beveg word?

Dit is groot probleme en daar is geen maklike oplossings nie. Niemand weet wat 2020 vir hulle en hulle gesinne inhou nie.

Christene het egter 'n duidelike voordeel. Ons leef nie in 'n vakuum sonder hoop nie. Inteendeel, ons weet wie ons lewens en ons uiteindelike bestemming beheer.

"Met hierdie vooruitsig span ons ons kragte in en stry ons, want ons het ons hoop op die lewende God gevestig, wat die Verlosser is van alle mense, van almal wat glo."

1 Timoteus 4:10

As individue is dit miskien nie vir ons moontlik om alles wat verkeerd is in die wêreld reg te stel nie, maar in ons onmiddellike omgewing kan ons 'n verskil maak.

Wanneer ons op God vertrou en ons hoop op Hom vestig, sal die Heilige Gees ons help.

Gebed: Almagtige God en Hemelse Vader, gee aan ons die genade om in hierdie jaar u wil met ywer en toewyding te doen. Ons bid dit in die Naam van u Seun, Jesus Christus. Amen