Neville Turley

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 1 Petrus 1:3-4

Moet nooit die krag van hoop onderskat nie. Dit maak nie saak hoe verpletter jy is of hoe depressief jy is nie, hoop kan jou in staat stel om weer jou kop te lig en die lewe in die oë te kyk.

Die apostel Petrus is 'n perfekte voorbeeld van die dinamiese krag van hoop. Meer as enige van die ander dissipels het Petrus Jesus erken vir wie Hy werklik is. “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (Matteus 16:16) Maar wat Petrus nie besef het nie, is dat die Messias sy lewe moes aflê.

Toe dit gebeur, net soos Jesus gesê het dit sou, het Petrus op 'n afstand agternagekom. (Lukas 22:54)  Petrus was 'n getuie van die lyding van Christus (1 Petrus 5:1) maar toe Hy sterf, het die hoop in Petrus gesterf. Na Jesus se finale verhoor, lees ons nie weer enige iets van Petrus nie tot die oggend van die opstanding.

Toe Petrus die opgestane Christus vir homself gesien het, (Lukas 24:34) het hoop opnuut in sy hart ontvlam. Die Here het regtig opgestaan. Hierdie wete het Petrus se lewe verander. Dit was ook die geval met die ander dissipels en met baie ander wat die opgestane Here gesien en geglo het.

Gevul met die Heilige Gees het hulle die evangelie verkondig van 'n lewende hoop wat God aan ons geskenk het. Die lewende hoop dat vir diegene wat in Jesus Christus glo 'n onverwelklike erfenis in die hemel in bewaring gehou word.

Halleluja! Loof die Here.

Gebed: Almagtige Vader, ons loof U vir die lewende hoop wat ons in Jesus Christus het. Skenk ons die krag deur u Heilige Gees om hierdie hoop met ander te kan deel. Tot eer van u Naam bid ons dit. Amen