Xanthe Hancox

Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm. 1Tessalonisense 5:8

Dit is waar dat ons nie kan voorspel wanneer Christus se wederkoms gaan plaasvind nie. 'n Aantal verse voor ons vers vir vandag, lees ons: "dat die dag van die Here onverwags kom soos 'n dief in die nag." (1 Tessalonisense 5:2). Jesus self het gesê: “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit." (Markus 13:32)

Dit is maklik om vasgevang te raak in die soeke na tekens, maar ons moet ons nie te veel oor die presiese tyd bekommer nie, want ons wag in hoop.

Inderdaad, die Bybel leer ons om in aktiewe hoop te wag terwyl ons uitsien na die dag wanneer Christus weer sal kom. Die seker wete dat die dag van die Here sal kom, is nie rede tot paniek of vir oorgerustheid nie. Ons moet eerder gereed en waaksaam wees, en die wapenrusting van geloof, liefde en hoop aantrek.

'n Soldaat trek sy wapenrusting aan om te veg en homself te verdedig. Wat die borsharnas en helm vir die soldaat se hart en kop moet doen, is wat liefde en hoop vir ons doen. Geloof stel ons in staat om die beproewinge wat ons beleef te verduur, liefde spoor ons aan tot aksie, en hoop help ons om uit te sien na die heerlikheid wat geopenbaar sal word.

En terwyl ons wag, word ons uitgenooi om nou reeds, met die hulp van die Heilige Gees, volgens die weë van die hemel te leef.

Gebed: Here, ons sien uit na die dag dat U weer sal kom. Gee dat ons die tyd met wysheid sal gebruik om u koninkryk uit te brei. Dankie vir die hoop wat ons het danksy u geskenk van verlossing. Amen