Ben Fourie

“Simon Petrus het geantwoord: ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God”  Matteus 16:16

Bogenoemde teks is seker die kortste, maar kragtigste geloofsbelydenis wat ’n mens maar kan kry. Toe Jesus en sy dissipels op ’n dag in die omgewing van Sesarea-Filippi kom, toets Hy hulle met die vraag: “Wie sê die mense is die Seun van die mens?” Die antwoorde was uiteenlopend. Vanaf Johannes die Doper tot Elia en nog ander. Maar dit is nie wie Hy is nie, want Jesus vra “Maar julle … wie sê julle is Ek?”

Die Vader openbaar aan Petrus die antwoord en in hierdie belydenis is die volle inhoud van die Evangelie opgesluit. Omdat ons reeds Vrydag na Jesus as Seun van God gekyk het, konsentreer ons vandag op die naam Christus.

Christus is die Griekse vorm van die Hebreeuse woord Messias en word in Afrikaans met Gesalfde vertaal. In die Joodse tradisie is die priester, profeet en koning met olie gesalf om hulle spesifieke taak te kon uitvoer. Wanneer die konsep van ’n messias in die Ou Testament voorkom, verwys dit meesal na so ’n koning of priester. In Jesaja, Jeremia, Esegiël en veral in die tyd van die tweede tempel net na die ballingskap, is daar heenwysing na ’n figuur wat nog moet kom. Dit is egter eers heelwat later wat die verwagting van ’n Messias al sterker geword het. Min word in die Bybel daarvan verhaal, maar in ander Joodse literatuur van die tyd is daar ’n Messias verwagting, helaas dikwels polities van aard. In die onderdrukkende regeringstyd van Antiochus Epiphanes en later in die Romeinse tyd het die verwagting al sterker geword, maar die Messias wat wel gekom het, was nie na hulle sin nie.

Tog was hierdie priester/profeet/koning presies wat die wêreld nodig gehad het. Nie iemand om ‘n aardse koninkryk te stig nie, maar Iemand wat gesalf is om as Hoëpriester die offer te bring, en terselfdertyd ook die offerlam te wees. Iemand om as profeet op te tree en so die boodskap van God se verlossing na die wêreld te bring en Iemand om as Koning oor alles te regeer.

Nou is die groot vraag ook vir jou en my. Wie is Jesus in my lewe?

Gebed: Ek bid dat U my sal help om elke dag nie net met my mond te bely dat U die Christus is nie, maar om ook deur wat ek doen in my lewe te wys dat U vir my Priester, Koning en Profeet is. Amen