Ben Fourie

 

“Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid”. Johannes 14:16-17a

 

Die Griekse woord vir Voorspraak is Parakleet. Die 1933/1953 Afrikaanse Bybel vertaal dit as Trooster, terwyl die 1983-vertaling die woord Voorspraak gebruik. In Die Bybel vir Almal word dit vertaal met Helper, terwyl Die Bybel: 2020-vertaling waarvan die volledige weergawe later die jaar op die mark kom, gewoon die Griekse woord Parakleet gebruik. By laasgenoemde vertaling kom dan ’n voetnota met die uitleg: “Die Griekse woord verwys na iemand wat geroep is om bystand te verleen – ’n voorspraak, ’n pleitbesorger, ’n trooster, ’n helper”.

 

Jesus is hier met sy groepie getroue volgelinge in gesprek kort voor sy dood. Uit die verloop van die gesprek kan ’n mens aflei dat die vorige paar dae se gebeure die dissipels hewig ontstel het. Judas, wat as verraaier uitgewys is, Petrus, wat moes hoor dat hy binnekort vir Jesus sou verloën, asook al Jesus se gesprekke oor sy komende dood, het hulle verward en ontsteld gelaat. Daarom sê Jesus vir hulle om nie so tot in hulle harte ontsteld te wees nie en belowe hy om hulle nie as weeskinders agter te laat nie. Hy wys hulle op die wonderlike belofte van ’n Voorspraak of Pleitbesorger, ’n Trooster en Helper wat hy gegee het, dit is die Heilige Gees wat van die Vader af sal kom.

 

Ons kan so maklik die werk van die Heilige Gees “beperk” tot die opspraakwekkende. Vuur en wind en spreek in tale en bonatuurlike gebeurtenisse en mense wat in beswymings val en spesiale belewenisse en nog meer. Dan vergeet ons dat die grootste werk van die Gees geleë is in wat Jesus hier aan sy volgelinge belowe het, ons ingesluit. Die Gees se taak is om elke oomblik van elke dag by ons te wees. Jesus word ook in 1 Johannes 2:1 as Voorspraak aangedui in die sin dat Hy vanweë sy soenverdienste by die Vader vir ons intree. Die Heilige Gees is in die volle betekenis van die woord eerstens ’n pleitbesorger of advokaat wat ons saak by die Vader voorlê.

 

Ons gaan volgende keer verder kyk na wat die Gees as Parakleet vir ons beteken.

 

Gebed: Aan U, Gees van God, my innigste dank dat U elke oomblik van my lewe in my woon. Amen