Carina Francke 

"Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Lukas 23:42, 1983-vertaling
 
Vandag het ek weer met dankbare aanbidding voor Jesus neergeval by die gedagte aan die woordebeeld van Hom wat blyplek in my hart en gedagtes kom maak het. Dit herinner my: Jesus is vir my (en jou en alle mense) se sondes, oortredinge en dwaalpaaie gestraf, mishandel, deurboor, verbrysel en aan 'n kruis vasgenael. Die bloed van elke vuis- en géselhou, elke spyker deur sy hande en sy voete, en kroon van steekdorings op sy hoof, was die prys wat Hy betaal het om die mens (my, jou ingesluit) los te koop van elke ketting van geestes-slawerny, van gevangenisskap deur die mag van sonde en genesing van elke kwaal en siekte.
 
Terwyl Hy op Golgota self die dood vierkantig in die gesig staar, was Hy ook pynlik bewus van die individuele behoeftes van mense wat hulle saam met Hom in daardie oomblikke op Golgota bevind het. Sy roeping vir mense is sy opdraggewer en laat geen ruimte vir onbetrokkenheid nie.
 
Terwyl fel hamerslae die spykers deur sy hande en voete kap, bid Hy tot sy Vader: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Lukas 23:34) En die wonder hiervan is dat hulle nie eers volgelinge van Hom was nie, maar heidene!
 
Onder groot gespot, gekoggel en veragting deur die godsdienstige leiers (Lukas 23:35b) bly Jesus gefokus op sy taak: die redding, bevryding en heelmaak van sy skepping – die mens. Sy aandag is vir daardie oomblik op die gesprek tussen die twee veroordeelde misdadigers wat weerskante van Hom hang. Die een laster Jesus saam met die omstanders; die ander een konfronteer sy makker kaalvuis: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man!” En dan volg sy insig dat hulle die straf verdien –- hulle dade getuig immers daarvan. “Maar,” sê hy: “hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” (Lukas 23:41) Toe draai hy na Hom en vra:” Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” (Lukas 23:42) En Jesus, pynlik bewus van sy eie lyding en die dood wat op Hom wag, antwoord met Goddelike gesag:” Ek verseker jou: vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Lukas 23:43)
 
Maar Jesus se liefde vir die mens, selfs in die doodsnikke van sy lewe, bly prioriteit. Enkele mense het by die kruis agtergebly, waaronder Johannes en Jesus se moeder Maria. Jesus was ten volle bewus van die emosies wat in daardie oomblikke in Maria se lewe ontknoop word. Het Simeon dan nie jare terug aan haar gesê dat 'n swaard deur haar siel sal gaan nie? (Lukas 2:35)
 
Daarom, toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Vrou daar is u seun. Daarna sê Hy vir die dissipel: Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. (Johannes 19:26-27)
 
Gebed: Onse Vader, dankie dat ons deel van 'n fisiese familie kan wees, maar meer nog, dankie dat U dit vir nietige, onvolmaakte menseskepsels moontlik gemaak het om deur geloof in Jesus Christus, deel te kan wees van Jesus se geestelike familie. Amen