Carina Franck

“Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kan uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.” 2 Konings 5:3, 1983-vertaling
 
Hierdie woorde van 'n klein naamlose Israelitiese dogtertjie, getuig van 'n positiewe gesindheid van geloof en aanvaarding van haar omstandighede. Tydens 'n strooptog deur die Arameërs in haar land, is sy as gevangene weggevoer na Damaskus en is in diens van die vrou van Naäman, kaptein van die Siriese weermag. Dit lyk of die dogtertjie dit kon regkry om haar vyand lief te hê en hom graag gesond sou wou sien.
 
Haar versugtende wens oor die omstandighede van haar eienares se man, skets 'n prentjie van iemand wat simpatiek, opreg en eerlik is. “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kan uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.” (2 Konings 5:3) Hierdie versugting word die reddingsboei wat sy na haar eienaars uitgooi – Elisa, die man van God in haar land, sal hom gesond kan maak. Hoe sy die Here se profeet van haar land geken het, weet ons nie, want haar landsburgers het nie die Here in daardie stadium aanbid nie. Wat ons wel uit die Woord weet, is dat haar geloof in God en sy profeet Elisa, Naäman so hoopvol gemaak het dat hy met toestemming van sy koning, spoedig vertrek het om Elisa te ontmoet vir genesing. 'n Dogtertjie se geloof staan in sterk kontras teenoor die gebrek aan geloof by haar volk.
 
Sy was maar net 'n onbekende klein slavin wat deur God op so 'n besondere manier gebruik is, dat dit waardig genoeg was om in die Bybel aangeteken te word. Van haar kan gesê word: “Geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”(Matteus 5:8) In God se meesterplan, het 'n jong dogtertjie 'n vyand van haar volk se lewe binnegestap om 'n boodskap van hoop aan hom te bring. 'n Boodskap wat uiteindelik bygedra het tot sy volmaakte genesing en skaamtelose belydenis:”Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie, behalwe in Israel.” (2 Konings 5:15)
 
Wat kommunikeer hierdie gebeure aan jou en my in 2022? Mense was, is en sal tot in ewigheid deel wees van God se plan vir die mens. Niks en niemand is te jonk, te oud of te gering om deur God gebruik, of gestuur te word om deel te wees van die uitbreiding van sy koninkryk op aarde nie! Die vraag is net, is jy gereed om “Ja!” te sê?
 
Lees weer hier: God het die mens gemaak om as 'n persoon met God as Persoon in 'n verhouding te tree. Daarom het Hy die mens gemaak met 'n eie wil en keuse. Dit is in die wyse waarop mense besluite neem en keuses uitoefen dat die verhouding met God sigbaar word. Dwang ontbloot nie 'n mens se gesindheid nie – net vrye keuse doen dit. Daarom moet die risiko geneem word dat die mens verkeerd kan kies, dat hy sy perke kan oorskry. (Bybellenium FJ van Rensburg en Nel)
 
Gebed: My hemelse Vader, knie my hart tot sag en skep vir my geesore wat u fluisterroep tot dienswerk, klokhelder sal hoor. Gee my dan die moed om op u roeping te reageer. Amen