Danny Fourie

Kennis begin met die dien van die Here ... Spreuke 1:7 (1983-vertaling)

Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis ... Spreuke 1:7 (1953-vertaling)

Elke mens wat in die praktyk van die lewe met God rekening hou, is waarlik wys. Deur hierdie wysheid bereik die lewe sy doel – en hierdie doel lê in God. Baie verstand is 'n seën, maar wanneer dit nie in diens van hierdie doel staan nie, kan dit 'n vloek word. Krag en mag kan 'n seën wees, maar wanneer dit nie in diens van hierdie doel staan nie, kan dit dood en verderf saai. 'n Dokter kan kundig wees, maar op 'n punt kan hy of sy nie verder gaan nie en stuit hulle op die muur van ontoeganklikheid. Die diepste geheim van die lewe en dood bly onbereikbaar vir die grootste geleerde, maar word vir die mees eenvoudige gelowige verstaanbaar wat uit die Woord van die Here leef.

In Spreuke staan die wyse teenoor die dwaas. Wie is die dwase? Is dit mense met tien duime? Kan hulle nie tot tien tel nie? Nee, 'n dwaas kan 'n uiters bekwame mens wees, maar dit is iemand wat nie met God rekening hou nie. 'n Dwase mens vind die wet van God soos 'n juk wat knel. Dwase mense stel hul eie wette en norms op.

Vanuit onsself is elke mens dwaas. Gelukkig, as ons dit self insien en ons dwaasheid as skuld bely, dan is daar genesing vir ons. Die deure van die leerskool van God staan oop – ook vandag. Dit nooi ons uit om binne te gaan. Begin deur die Bybel te lees. Maak dit persoonlik en biddend om die seën van die Here te ontvang.

Miskien doen jy dit nie of nie meer nie of net wanneer jy daarby uitkom. Begin om dit anders te doen. Op hierdie manier wil God ook vir jou van sy wysheid en kennis gee.

Wanneer mense iets van hierdie wysheid ontvang, kan hulle dit nie vir hulleself hou nie. Ware wysheid bring 'n mededeelsaamheid. Wyse mens kan nie anders as om daarvan te getuig nie.

So wag daar vir ons in hierdie tye 'n groot taak om die wysheid van God te verkondig – in 'n wêreld vol dwaasheid.

Gebed: Help ons Here om te verstaan dat u wysheid nie 'n juk op ons nek is nie. Dankie dat ons uit u wysheid en kennis kan leef – te midde van 'n wêreld vol dwaasheid.  Amen