
Vers n dag - 8 September
HUIDIGE REEKS: FAMILIE, HUWELIK, OUERSKAP
DAG 3: OUERSKAP . . . GOD SE PLAN VIR DIE WÊRELD
Deur Benescke Janse van Rensburg
In die tempel in Silo kniel ’n vrou op dieselfde plek waar sy twee jaar tevore gekniel het. Dié keer is daar weer trane in haar oë, maar om ’n ander rede. Twee jaar tevore het Hanna haar hart voor God uitgestort omdat sy desperaat was vir ’n baba. Dié keer het sy gekom om vir God dankie te sê dat Hy haar gebed beantwoord het. Sy het ook gekom om haar belofte te hou deur vir Samuel na die tempel te bring waar hy onder die toesig van die priester Eli sou grootword. . .
Iewers in die landstreek Moria hurk ’n man langs die altaar terwyl sy hart vinnig klop en ’n sweetpêrel vinnig by sy slaap afrol. Op die altaar lê sy seun vasgebind – die seun waarvoor hy dekades lank gewag het. Toe Abraham ’n honderd jaar oud was, is Isak eindelik gebore. ’n Paar jaar later het God se opdrag hom egter onkant getref: “Abraham, gaan offer jou seun.” Abraham was dadelik gehoorsaam. Hy het geweet dat Hy op God kon vertrou. Oomblikke tevore het hy die mes hoog in die lug gesteek, gereed om Isak te offer, voordat God hom gekeer het en aan hom ’n skaapram gegee om in Isak se plek te offer. Abraham het die toets geslaag . . .
Ek wonder: Sal jy jou baba op twee jaar aan iemand anders gee om hom groot te maak? Sal jy jou tiener kan offer? Hanna en Abraham het egter albei die belangrike les van ouerskap geken. Hulle het verstaan dat die kinders nie aan hulle behoort nie, maar aan God. Ook dat God hulle bloot as “rentmeesters” gekies het om sy kinders volgens sy weë groot te maak.
Psalm 127: 3: “Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee.”
Ek wonder: Besef jy dat jou kinders aan God behoort? Behandel jy hulle só? Sal jy bereid wees om hulle aan God terug te gee as Hy dit van jou vra?
DRIE RIGLYNE AAN OUERS . . . UIT GOD SE WOORD
1) Leer jou kinders van kleins af van God
In Deuteronomium 4 en 6 en ook in Psalm 78 en Spreuke 22:6 lees ons herhaaldelik dat God aan ons die opdrag gee om ons kinders van Hom te leer. Hoe doen mens dit? Begin om jou eie en ander se ervarings met jou kinders te deel. Byvoorbeeld: Wanneer jy vir iets gebid het en ’n antwoord daarop ontvang het, deel dit met jou kinders. Ook wanneer God finansieel vir julle voorsien of wanneer jy ’n deurbraak wat jy in die werk beleef het. Só word hulle geloof van kleins af opgebou en versterk.
2) Dissiplineer jou kind in liefde
In Spreuke 13:24 lees ons: “Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie; as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is.” God self dissiplineer ons ook vandag omdat Hy ons liefhet (Hebreërs 12:5-6). Onthou egter om dit altyd in liefde te doen – dit is wat God doen!
3) Motiveer en hou op kritiseer
In Kolossense 3:21 lees ons: “Moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie.” Navorsing het bevind dat kinders baie meer bereik wanneer hulle glo dat hulle ouers in hulle glo as wanneer hulle heeltyd gekritiseer word. Begin ’n slag op die positiewe eerder as die negatiewe dinge in jou kind se lewe te fokus. Jy mag dalk net verbaas staan hoe dit sy of haar optrede begin verander.
Mag jou optrede teenoor jou huweliksmaat en teenoor ander mense só wees dat jou kinders opgewonde uitsien om self ’n gelukkige huwelik en gesonde verhoudings met ander te bou. Ons almal weet tog – kinders kyk veel meer na hoe hul ouers optree as wat hulle na hulle ouers se raad luister! Sterkte.
GEBED VIR OUERS
Vader God, baie dankie dat u Woord aan my riglyne bied om ’n beter “rentmeester” van die kinders te wees wat U aan my toevertrou het. Lei my asseblief daagliks met wysheid om só op te tree dat my kinders self ’n verhouding met U sal begeer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
GEBED VIR DIEGENE WAT ’N KINDJIE VAN HUL EIE BEGEER:
Vader God, dankie dat ek my hart voor U kan uitstort. Ek besef dat elke kind ’n geskenk uit u hand is en dat ons bloot “rentmeesters” van u kinders op aarde is. Ek vra U vandag om aan my die geleentheid te gee om ’n ouer te word sodat ek een van u kinders vir U kan grootmaak om U te dien. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
NUUSBROKKIES:
- Benescke Janse van Rensburg tree op as motiveringspreker:
- Vrydag, 10 September 2010 by die Twelve Apostles naby Kampsbaai. Kontakpersoon: Hester Swanepoel by 021-4231328 of 0829234599.
- Saterdag 16 Oktober 2010 in Somerset-Oos. Kontakpersoon: Tersia Botha by Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien of 042-2432080 of 0828755440.
- Argief: Het jy van ons vorige stukke misgeloop? Kry dit nou op ons webwerf, www.versndag.co.za. Jy kan hier ook self as leser inteken om die dagstukkie te ontvang.
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na: Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien .
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel oor wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n e-pos aan: Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien . Onthou om foto’s ook saam te stuur. Dit kan oor enigiets wees. Dankie. Benescke
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien . Sonder die nodige ondersteuning sal die diens nie moontlik wees nie.
Vers n dag - 7 September
HUIDIGE REEKS: FAMILIE, HUWELIK, OUERSKAP
DAG 2: DIE HUWELIK . . . GOD SE PLAN VIR DIE WÊRELD
Deur Benescke Janse van Rensburg
Dit was ’n perfekte dag in die tuin. Vanuit die rivierbeddings het die goud geskitter terwyl die sonstrale daarop skyn. Aan die bome het die sappige vrugte gehang. En onder die groen vrugtebome het Adam tussen die diere gestaan terwyl hy aan elkeen ’n naam gegee het.
Teen laatmiddag het Adam uitgeput, met ’n effense frons op sy voorkop, teen ’n boomstam gaan sit. Hy het al die diere deurgekyk: Die mak diere, die voëls, die wilde diere. Net een ding het geskort. Hy kon nêrens ’n helper, ’n gelyke vir homself vind nie. God het dit ook raakgesien. In Genesis 2 lees ons God se reaksie hierop: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”
God het ’n diep slaap oor Adam laat kom. Hierna het Hy ’n ribbebeen uit Adam geneem, die plek met vleis opgevul en uit die ribbebeen het God ’n vrou geskep. Toe Adam wakker skrik en vir Eva sien, het hy breed geglimlag. Toe sê Adam: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.” Hy het sy maat gevind, sy gelyke.
In Genesis 2:24 lees ons verder: “Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.” Wanneer ’n man en vrou dus in ’n huwelik seks het, word hulle een. Dít was God se plan.
WAT AS EK OP 40 STEEDS NIE ’N LEWENSMAAT GEVIND HET NIE?
Dít was die vraag waarmee Abraham se seun, Isak geworstel het. Gaan lees gerus weer hoe God Abraham se slaaf na die regte vrou vir Isak gelei het (Genesis 24 en 25). Isak was 40 jaar oud toe hy eindelik sy vrou Rebekka ontmoet het. God ken ons diepste wese. Hy wil ons help om die regte lewensmaat te kies. Gaan jy Hom daarmee vertrou?
WAT AS EK MET ’N ONGELOWIGE GETROUD IS?
In 1 Petrus 3:1-2 lees ons: “As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle, julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om 'n woord te sê nie.” Het jy al ooit gesien dat ’n ongelowige tot bekering kom omdat sy of haar maat heeltyd aan hom of hom karring? Ek het nie. Ek het wel al gesien hoe kragtig lewens verander wanneer huweliksmaats begin bid dat God sal ingryp om hulle ongelowige maats se lewens te verander.
WAT AS EK ’n GESKEIDE PERSOON IS?
In Jesaja 1:18 lees ons dat God ons spierwit was soos sneeu, al was ons ook skarlakenrooi van sonde. En in Jesaja 44:22 lees ons dat God ons sondes uitwis soos miswolke wat voor die son verdwyn. As God dus aan ’n moordenaar en/of ’n prostituut ’n tweede kans op geluk kan gee, wie is ons om te sê dat Hy dit nie ook vir iemand sal doen wie se eerste huwelik nie uitgewerk het nie?
SEWE RIGLYNE VIR DIE HUWELIK . . . (UIT 1 KORINTIËRS 13):
- Die liefde is geduldig: Bly jy te alle tye geduldig met jou huweliksmaat?
- Die liefde is vriendelik: Bly jy vriendelik selfs al het jy rede om jouself behoorlik vir jou maat te vervies?
- Die liefde is nie afgunstig nie: Gun jy jou maat sukses sonder om jaloers te raak op sy of haar prestasies?
- Die liefde soek nie sy eie belang nie: Plaas jy jou maat se behoeftes bó jou eie?
- Die liefde is nie liggeraak nie: Raak jy kwaad vir elke klein dingetjie wat nie volgens jou plan verloop nie?
- Die liefde hou nie boek van die kwaad nie: Vergeet jy vinnig of herinner jy jou maat telkens aan sy of haar foute uit die verlede?
- Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles: Bedek jy jou maat se foute of ontbloot jy dit deur dit met almal om jou te bespreek?
Vader God, baie dankie dat u Woord my en my gesin se optrede daagliks rig. Lei my asseblief met wysheid en krag sodat ek in elke situasie sal kies om u liefde na die mense rondom my uit te straal. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
NUUSBROKKIES:
- Benescke Janse van Rensburg tree op as motiveringspreker:
- Vrydag, 10 September 2010 by die Twelve Apostles naby Kampsbaai. Kontakpersoon: Hester Swanepoel by 021-4231328 of 0829234599.
- Saterdag 16 Oktober 2010 in Somerset-Oos. Kontakpersoon: Tersia Botha by Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien of 042-2432080 of 0828755440.
- Argief: Het jy van ons vorige stukke misgeloop? Kry dit nou op ons webwerf, www.versndag.co.za. Jy kan hier ook self as leser inteken om die dagstukkie te ontvang.
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na: Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien .
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel oor wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n e-pos aan: Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien . Onthou om foto’s ook saam te stuur. Dit kan oor enigiets wees. Dankie. Benescke
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien . Sonder die nodige ondersteuning sal die diens nie moontlik wees nie.

