Deur Benescke Janse van Rensburg

My 3-jarige dogtertjie het ’n bos donker krulhare. Alhoewel die hare pragtig is wanneer dit uitgekam is, sal enige ouer met ’n kleuter met krulhare verstaan dat die uitkam van dié koeke meestal ’n proses is. Dit vat lank! Gisteraand, net nadat haar hare gewas is, gereed om uitgekam te word, gaan die krag af. Beurtkrag. Nou hoe op dees aarde kam jy koeke uit dié bos hare in die donker? 

Nadat ek elke moontlike detangling produk tot my beskikking aan my dogtertjie se hare gespuit het, het ek met my selfoon se liggie probeer om die koeke uit te kam. Nodeloos om te sê het ek gou die aftog geblaas. Sy het met klam hare (steeds plek-plek vol koeke) aan die slaap geval – oomblikke voordat die krag skielik weer aangegaan het. 

Hierdie gebeurtenis het my laat dink aan die donker seisoene in ons lewens. Gewoonlik is dit gevul met frustrasies – soos die “koeke” in my kind se hare. Dit kan wees ’n frustrasie by die werk, in die huisgesin, met jou gesondheid, finansies of selfs net drome wat nie vinnig genoeg ’n werklikheid word nie. 

Ons reaksie in hierdie frustrerende tye wys wat in ons harte aangaan. Tas ons rond in die duister met ’n “selfoonliggie” of detangling produkte – in die vorm van die maak van ons eie planne? Of kies ons om terug te keer na die Een wat Lig is, die Een wat die einde van die begin ken en die Een wat beloof om ons met wysheid en insig te vul wanneer ons dit benodig? 

In 1 Johannes 1:5 lees ons: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” In Psalm 127:1 word ons herinner om Hom deel van ons planne te maak: “As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.” En in Sagaria 4:6 lees ons: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.”

Ervaar jy frustrasie in jou lewe? Kom ons sit die “selfoonliggie” neer en keer terug na God. Kom ons vra Hom om ons te help en te beskerm. En kom ons herinner onsself dat dit nie deur mag en krag is nie, maar deur God se Heilige Gees dat ons die oorwinning behaal. Só mag ons hare ook dalk gou weer, sonder koeke, in die wind wapper! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek elke frustrasie in U hande mag plaas. Lei my asseblief deur u Heilige Gees en vul my met wysheid. Ek wil niks sonder U bou nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen!

• Sien foto van my dogtertjie se hare (sonder koeke) op die Stories van Hoop bladsy op Facebook of www.benescke.co.za

• Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het.

• Vir meer stories: 

www.benescke.co.za

Facebookhttps://www.facebook.com/storiesvanhoop/

Instagramhttps://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en