Hennie Symington

Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Filippense 2:8

Laat hierdie dae vir jou heilig word. Maak ʼn punt daarvan om hierdie Pase die talle gelukkige oomblikke wat jy elke dag ervaar op te teken om later weer te geniet as klein geskenkies uit God se hand. Hierdie seisoen is immers die hoogtepunt van die Christelike kalender waar ʼn goddelike drama van verraad, liefde en herskepping hom jaarliks reeds vir tweeduisend en negentien jaar afspeel. Dit is die verhaal van God wat sterf sodat die mens kan leef.

Weet dat, net soos elke dag genoeg aan sy eie kwaad het, so het elke dag sy deel van vreugde en oorvloed. Jy kan kies om jou soektog na niks voort te sit, of om te geniet wat elke dag bied in die wete dat Christus vir jou gesterf het om jou nie net met Hom nie, maar ook met jou naaste en jou naastes (dis nou man, kinders, ouers, medelandsburgers, jou baas by die werk en vriende) te versoen.

Die liefde haak die knoop deur. Die moment toe die bose daarin slaag om Christus dood te maak, keer Hy die tafels om en oorwin die vyand. Pase is daarom die kruispunt in ons geskiedenis ‒ die lewe voor Jesus se versoeningsdood aan die kruis en die lewe daarna.

Ons weet dat ons eendag, net soos Christus, die oorgang van die lewe na die dood moet meemaak. Daarom staan ons lewe in die teken van die kruis met alles wat dit vir ons as gelowiges inhou: Eerstens dat Christus ons sonde op hom geneem het, en tweedens dat sy opstanding vir ons die ewigheid in God se teenwoordigheid aankondig.

Gebed: Here, U is barmhartig en genadig, lankmoedig en vol liefde vir u aardse kinders met hulle kort geheue en langdurige murmurering. Gee ons klaarheid sodat ons u liefde en sorg kan raaksien in ons daaglikse lewens. Amen