Ewald Schmidt

“Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?”  Romeine 8:31-32

Ons moet onsself indink in die situasie van die eerste geslag Christene in Rome, die eerste lesers van hierdie brief. Daar het vervolging teen die Christene uitgebreek in die Romeinse Ryk. Die gelowiges kon nie ‘n menslike keiser soos ‘n god vereer en as here (Kurios) aanbid nie. Die oortreding wat hulle volgens die Romeinse regstelsel sou begaan het, was rebellie teen die keiser se gesag. Daar was geen kriminele bedoeling in die posisie wat hulle ingeneem het nie, net ‘n geloofsoortuiging. Jy mag nie hierdie gedeelte misbruik om kriminele gedrag te regverdig nie! Dit het baie moed gekos om Jesus as Here te volg in daardie tye, dit kon jou lewe kos. Hierdie nuwe lewenswyse was kosbaar genoeg vir hulle om bereid te wees om die prys te betaal.

Paulus stel hulle situasie nou in perspektief. Die belangrikste van alles in die lewe is dit wat die Here oor ons dink, nie die posisie wat vyandige menslike regerings dalk sou inneem nie. Al is die hele wêreld dalk teen jou oor jou geloofsoortuiging, onthou dat God vir ons is. Dit maak teen die groter prentjie van die ewigheid nie saak wat menslike owerhede dalk oor ‘n mens sou uitspreek nie. Onthou altyd dat Jesus die grootste vervolging beleef het in ons plek. Hy het reeds die duurste prys betaal sodat ons verlos kan word. Dit was God se grootste geskenk aan ons om sy Seun in ons plek te gee. As God dan bereid was om so duur vir ons te betaal, hoe sal Hy dan die ander genadegawes van ons weerhou wat ons nodig het om Hom te dien? Paulus se boodskap vir die gelowiges van alle tye is: Onthou dat jy baie duur gekoop is. Onthou dat God met jou is, selfs wanneer jy vervolging en pyn ervaar in jou lewenspad. God sal nie sy goeie gawes weerhou wat ons nodig het om met dankbaarheid te lewe vir hom nie.

Gebed: Here, die lewenspad raak soms uitdagend en oorweldigend vir my. In hierdie tye kan ek soms wonder of U my ooit raaksien. In krisistye wonder ek dalk of U werklik omgee. Dankie dat ek vanoggend weer hoor: U is vir my! U is aan my kant! U ondersteun my, en help my, want U het my duur gekoop. Rus my dan asseblief toe met al u gawes wat ek nodig het om voluit vir U te lewe, en U te dien van harte as my Here. Amen.