Ben Fourie

Hy is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar.  Deuteronomium 32:4

“Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar.” sê Moses in Deuteronomium 32:4 en in vers 11 sê hy: “Soos ’n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ’n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei.”

Ons dink meesal aan die boek Deuteronomium as ’n wetboek met voorskrifte oor baie dinge wat die verbondsvolk in die beloofde land moet doen en verder as ’n boek wat ’n stuk geskiedenis opteken. Tog is hoofstuk 32 ’n besonderse lied wat deur Moses aan die volk voorgehou is.

Die essensie van die lied handel oor wie God is, hoe Hy van ouds af met sy volk die pad gestap het, hoe Hy optree in verskillende omstandighede, maar veral besing die lied die feit dat Hy die getroue en versorgende God is teenoor die dikwels ontroue volk.

In die lied gebruik die skrywer verskillende beelde om God se trou en beskerming te beskryf. Een hiervan is die van ‘n arend wat sy kleintjies uit die nes moet skop om die wêreld te leer ken. In die leerproses laat hy hulle egter nie alleen nie, maar sweef saam met hulle sodat wanneer die jong vlerkies moeg word hy hulle op sy groot sterk vlerke kan opvang en veilig na die nes kan terugneem.

So maak God ook met ons. Hy wil dat ons vry moet wees, self die wêreld moet verken en aanpak, maar Hy is altyd so naby dat wanneer die lewe ons op verskillende maniere moeg maak, Hy ons onmiddellik kan opvang. Soms is ons soos die volk halsstarrig en probeer om Hom met ons klein vlerkies wegklap en soms is ons ontrou, maar altyd weer kom God terug en soos wat Hy met sy bondsvolk gemaak het, bring Hy weer vrede tussen ons en Hom.

Om aan God getrou te bly sê Moses is egter “die lewe vir julle”. Ook van my word dus iets groot gevra.

Gebed: Baie dankie dat U getrou bly selfs wanneer ek in oormoedigheid my eie pad probeer loop. Amen