Ben Fourie

“Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe …” Efesiërs 3:20

Vroeg in sy bediening praat Jesus reeds oor gebed en leer ons in die Onse Vader gebed om in eenvoudige taal te bid. Gebed is nie die plek waar ons met spesiale stembuigings en hoogdrawende taal vir God en ander mense moet probeer beïndruk nie. Tog het ek al self talle gebede gehoor wat in eenvoudige taal ‘n gedig voor God is. So het ook die psalmdigters dikwels hulle gebed as ’n lied aangebied. Paulus se gebed vir die Efesiërs is ook so ‘n liedgedig.

Op skool moes ons onder leiding van ons taalonderwyser ’n gedig vat en dit ontleed om te sien wat die digter vir ons wil sê. Meesal het dit my tot die uiterste frustreer, want die gedig verloor sy magiese trefkrag wanneer dit soos ’n padda in die biologieklas gedissekteer word. Alhoewel ’n lied soos hierdie gebed van Paulus gelees kan word suiwer vir die skoonheid en klank van die woorde, is dit egter soos met alles in die Bybel nodig om wel na die betekenis te soek, want dan word God se boodskap wat daarin opgesluit is vir ons duidelik.

Die gebed van Paulus is so ryk aan betekenis dat lesers goed sal doen om tyd daaraan af te staan en dit rustig weer te gaan lees. Ek lig net enkele gedagtes uit. Paulus se woorde in vers 18 laat my altyd aan God se liefde dink as ’n kubus. Vêr, hoog en wyd, driedimensioneel dus en ek wat kan leef binne hierdie alles omvattende beskermde ruimte van Christus se liefde. Dit herinner mens aan die nuwe Jerusalem van Openbaring 21 waar die engel dit meet en die lengte, breedte en hoogte dieselfde is, die volmaakte kubus van God. So groot is sy liefde in alle rigtings dat my klein breintjie dit nooit kan begryp nie. Meer nog, so groot is sy almag dat al span ek al my gebedskrag in en al spoor ek my brein tot ongekende hoogtes aan kan Hy so oneindig meer doen as wat ek my kan indink. Daarom kan Paulus ook nie anders nie as om te sê: “Aan Hom kom die eer toe …”

Gebed: Here, ek wil ook bid soos die woorde in Koos du Plessis se gebed. “Wat ek het, is net genade, wat ek het, is net geleen.” Dankie, dat ek veilig binne u ruimte van genade kan skuil. Amen