Charlea Grey 

Dawid het net die slingervel en een klip gebruik, maar hy was sterker as die Filistyn. Hy het die Filistyn oorwin en hy het hom doodgemaak, en hy het nie 'n swaard in sy hand gehad nie. 1 Samuel 17:50, Bybel vir Almal
 
Ons het die afgelope paar dae stilgestaan by van die gelykenisse wat Jesus vertel het om God se boodskappe oor te dra. Ek kon toe nie help om te dink oor die stories wat elkeen van ons leef nie.
 
Het jy al so oor jouself of jou lewe gedink? Dat jy ook ’n verhaal het? Dat jy die hoofkarakter in jou lewe se storie is? Ja, jou lewe is ’n storie vol karakters, konflik, klimakse en ontknopings.
 
Wanneer ’n mens ’n storie skryf of uitdink om oor te vertel, moet jy gewoonlik baie aandag aan die hoofkarakter skenk. Jy moet ’n volledige prentjie vorm, jy moet weet watter karaktereienskappe belangrik is en jy moet gewoonlik ook weet hoe jou karakter in sekere omstandighede sal optree.
 
Dawid is een van die mense in die Bybel, met ’n interessante verhaal, vol kinkels en draaie. Maar een van die bekendste gedeeltes van sy lewensverhaal is natuurlik die storie oor hoe hy die Filistyn, Goliat, met ’n klippie in ’n slingervel verslaan het.
 
Dawid was net ’n skaapwagter. Goliat is as ’n reus beskryf, so hy moes veel groter as Dawid gewees het. Hy was sterk en het baie wapens by hom gehad. Boonop was hy al gewoond aan oorlog. Klink my hy was nogal luidrugtig ook en het graag die Israeliete getart en uitgedaag om hom aan te vat.
 
As gevolg van dié storie, van Dawid en Goliat en die klippies en die slingervel, assosieer ons dikwels vir Dawid met dapperheid. Ja, hy het ander eienskappe ook gehad en soos ek sê, sy lewe het allerhande draaie gemaak. Maar Dawid was iemand met moed. Hy het kans gesien om vir Goliat aan te pak want hy het geweet God is aan sy kant.
 
Dit is waarom hy die selfvertroue gehad het om vir Goliat te konfronteer. Dawid het geweet God sál hom beskerm en bewaar.
 
Daar is soveel dinge in hierdie lewe van ons wat uitdagings skep. Gróót uitdagings.
 
Jy weet watter reuse jou vandag uitdaag. Jy weet watter reuse jou oor en oor tart. Daardie reuse lyk vir elkeen van ons anders. Maar dink vandag ’n bietjie, sien jy kans om soos Dawid moed te skep en dapper te wees?
 
Dalk nie. Maar dálk kan jou storie ’n ander draai neem as jy moed hou en op God vertrou. Moenie bang wees om ’n dapper hoofkarakter te wees nie. Jy het ook vir God aan jou kant en Hy sal jou lei. Hy sal nie toelaat dat jy alleen voor die reus staan nie. Vra maar vir Dawid.
 
Gebed: Here, dit verg so baie moed om die uitdagings van hierdie lewe te oorkom. Daardie uitdagings kan dikwels soos reuse voel. Help my om my lewe met moed en dapperheid aan te pak. Help my om te onthou dat ek dapper kan wees omdat U my God is. Amen.