Charlea Grey 

U moet vir my leer om te doen wat U wil hê, want dit is Ú wat my God is. U is goed, U moet my op 'n gelyk pad laat loop. Psalm 143:10, Bybel vir Almal
 
As kind het ek gou lief geraak vir lees. My ma het my en my broer aangemoedig om soveel moontlik te lees. Ons het elkeen ’n spesiale boekie gehad waarin my ma al die boeke wat ons gelees het, opgeskryf het. En as jy ’n sekere aantal boeke gelees het, het jy ’n stempel in jou boek gekry. En as jy ’n hele klomp stempels gehad het, het jy ’n beloning gekry. Iets eenvoudig soos ’n lekker of ’n klein speelding.
 
In ’n stadium het ek kennis gemaak met die soort boekies waarin die leser onderaan die bladsy ’n keuse moet maak oor wat volgende gaan gebeur.
 
Sê nou die karakter kom te staan voor ’n deur in ’n donker gang, moes jy kies: Maak die deur oop en kyk wat skuil daar agter – dan blaai jy na bladsy X, of stap verder in die gang af en kyk wat wag in die donker. Dan blaai jy na bladsy Y om verder te lees.
 
As ek nie gehou het van wat agter die deur wag nie, het ek soms gekroek en teruggeblaai en oor gekies, met die hoop dat dinge beter of meer opwindend sal uitdraai vir die karakter.
 
Ek het so ’n boek ook graag oor en oor gelees want ek wou sien hoe die storie se kinkels verander en die einde dan verskil van die vorige ronde.
 
Oulike idee vir ’n storieboek vol avonture, maar ongelukkig werk die regte lewe nie so nie, né?
 
Ons kan nie teruggaan in tyd en ander besluite neem as ons sien dinge werk nie so lekker uit nie. Dit is wat die lewe soms so skrikwekkend kan maak. Veral as jou besluite en keuses ’n impak het op ander mense en gevolge dra vir jou geliefdes soos jou kinders, ouers of lewensmaat.
 
Die realiteit is, ons gaan nooit weet wat presies die gevolge van ons besluite en keuses gaan wees, voor ons daardie besluit gemaak het nie. Maar ons moenie toelaat dat die vrees vir die onbekende ons oorweldig nie. Ons kan nie sê ons is gelowiges in Christus maar dan vertrou ons nie op God as ons by ’n vurk in die pad kom of agter ’n toe deur staan nie.
 
Dis hier waar ons juis met God in gesprek moet tree en moet aanhou vra vir leiding en insig en antwoorde. Vra vir God om jou te wys watter pad jy moet stap.
 
Dit beteken natuurlik nie dit gaan die maklike paadjie wees nie. Dit gaan dalk nie die pad wees wat vir jou lekker gelyk het nie. Dit kan ook wees dat jy halfpad by die pad gaan af wees en dan gaan besef: Katastrofe!
 
Onthou net, jy stap nooit alleen nie. En selfs al kan jy nie teruggaan in tyd en ’n ander besluit neem nie, God is steeds daar. Hy sal ook op die afdraaipad wees en jou help om terug te keer na die hoofpad. Jy moet Hom net toelaat.
 
Gebed: Here, wanneer ek groot besluite moet neem, help my om reg te kies. Wys vir my watter pad ek moet stap. Maar Vader, wanneer ek ’n fout maak en op ’n afdraaipad beland, help my om my weg weer tot op die regte pad te vind. Amen.