Charlea Grey 

Een stuk yster kan 'n ander stuk yster skerpmaak, so kan een mens 'n ander mens help om slim te word. Wanneer iemand goed sorg vir 'n vyeboom, dan sal hy vye hê om te eet … Spreuke 27:17-18a, Bybel vir Almal
 
Ek is by die derde skrywe oor tyd en die dinge waarvoor ons tyd moet inruim. En terwyl ek hier sit en tik, dink ek – die lewe is só vol en besig en nou wil ek nog vir mense kom staan en sê om vir nóg dinge tyd te maak. Dít terwyl ek self nie eers behoorlik kans kry om die wasgoed weg te pak nie.
 
Maar kom ek verduidelik.
 
In Februarie het ek en ’n handvol vriendinne ’n naweek in Hermanus deurgebring. Ons het kos gemaak, gaan stap, op die strand gesit en gekyk hoe dit skemer raak. Ons het vir onsself gebraai en tussen-in twee peuters vermaak, gebad en in die bed gekry. (Okay net een, die ander een het maar op sy ma se skoot aan die slaap geraak want hy wou op níks uitmis nie.)
 
Toe ek en my vriendin met die volgepakte kar terugry Kaap toe, was my hart vol.
 
Net so het ek ’n skoolvriendin wat die wêreldvol reis. Sy werk op ’n luukse seiljag. Ons sien mekaar baie min. Ons probeer om gereeld by mekaar in te loer en stuur stemboodskappe, video’s en foto’s.
 
Elke keer wat ons gesels, dink ek terug aan my skooldae en al die dinge wat ons saam gedoen het. Ek dink ook aan al die kere wat ons as volwassenes saam koffie gedrink het en sommer net opgevang het oor die lewe se draaie. Ek verlang na haar, maar ek is dankbaar vir ’n vriendin wat al meer as 20 jaar deel is van my lewe.
 
Vriende is een van die wonderlikste, mooiste, vreugdes van die lewe. Dis voorwaar iets om te vier en ek glo dat God wil hê ons moet ons lewenspad saam met goeie vriende wat ook mede-gelowiges is, stap. Sonder goeie vriende, kan die lewe baie eensaam raak.
 
Vriende bied dikwels iets wat familie nie bied nie – ander soort gesels, ander insig en raad en perspektief op die lewe. ’n Ander soort liefde en ondersteuning – want ons kies mekaar en ons kies om ons tyd saam deur te bring. Ons het dalk iets in mekaar raakgesien wat eenders is, of iets wat juis anders is.
 
Ons moet daarom ook seker maak ons bring so nou en dan werklikwaar gehaltetyd saam met goeie vriende deur. Dit is dalk nie elke dag of elke week nie. Maar ’n in-diepte gesprek, ’n heerlike kuier saam met goeie vriende, sal jou hart vol maak.
 
Gebed: Here, dankie vir vriende wat my lewe verryk. Dankie vir vriende wat saam met my deur die lewe kan gaan. Help my om ook tyd te maak vir my vriende, Here, en die wonderlike mense in my lewe te vier. Amen.