Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 15: ’N NUWE BEGIN... MET VERTROUE DAT GOD ONS GEBEDE HOOR

Deur: Benescke Janse van Rensburg                 

[AGTERGROND: Dankie aan almal wat hulle getuienisse met ons deel. Jy kan steeds by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Ek deel graag twee getuienisse van lesers wat getuig dat God elke gebed wat ons bid, hoor.]

Koos: “In 2003 het ek by ’n maatskappy in Douglas gewerk. Ek moes elke oggend die stoorkamer vir die werkers oopsluit. Deel van my roetine was om eers voor die stoor te parkeer en dan later my voertuig weg te trek na my parkeerplek.

Een oggend kom my werkgewer en vra dat ek saam met hom na kliënte ry. My voertuig was steeds voor die stoorkamer geparkeer. Toe ons terugkeer wou ek my voertuig wegtrek, maar ontdek toe dat my sleutels uit my broeksak geval het!

Ons het oral waar ek was gesoek – sonder sukses. My spaarsleutels was by die huis, maar om sake te vererger was my huissleutel ook in my motor. Ek het desperaat tot God gebid en Hom gevra om my te wys waar my sleutel was.

Daardie aand toe ek gaan slaap, nadat ek by ’n klein venstertjie by my huis kon inklouter, het ek ’n droom gehad. In die droom het die dag se gebeure voor my afgespeel. Ek het gesien hoe ek werk toe ry, die stoor oopsluit en by my werkgewer in die motor klim. Toe ons vertrek, kon ek sien hoe my sleutel uit my broeksak gly, agter die bestuurder se sitplek inval en onder die matjie gaan lê.

Ek het my werkgewer die volgende dag met ’n breë glimlag ingewag. Hoewel hy eers my storie afgelag het, het ek sy voertuig oopgemaak, die sitplek vorentoe geskuif en die matjie weggevat. Meteens het ons na ons asems gesnak: My sleutel het, net soos in die droom, daar gelê! Ek het die Here gedank en besef dat ek net moet vra en glo en Hy sal voorsien!”

Frans: “In Desember 1992 het ek en my vyf jong seuns saam met my visvangfamilie langs die strand gestaan en hengel. My swaer en die ander manne het ’n klomp elwe uitgetrek, maar niks het aan my lyn gebyt nie. Dit was vir my baie sleg om te sien hoe my seuns rondom die ander hengelaars gedrom het terwyl ek niks gehad het om te wys nie.

Ek het ’n entjie weg op ’n rots gaan sit en vir God gevra om asseblief vir my ’n vis te stuur wat ek kon vang. Ons is later weg en ek het steeds niks gevang nie.

Die volgende oggend 04:00 het my swaer my wakker gemaak en gevra of ek saam met hulle wou gaan hengel. My eerste antwoord was ‘nee’. ’n Stem het egter by my opgekom en gesê dat ek dan vir ’n vis gevra het. Ek het twee van my seuns gaan wakker maak en ons het saam see toe vertrek.  

My visstok was heel eerste uit die voertuig gelaai. Ek het aas aan die stok gesit en my lyn sowat 40 meter die see-in gegooi. Na 2 minute was daar ’n geweldige sterk pluk aan my lyn. My swaer het nader gestaan en gesê dis ’n haai en dat ek die lyn moet afsny. Ek het egter besluit om vas te hou. Die einde van die storie? Na sowat ’n uur se gesukkel het ek ’n massiewe Koningsvis van 28,5kg uitgetrek – terwyl my kinders die keer trots om mý gedrom het! Ek glo die Here is altyd by ons. As jy Hom iets vra, gee hy met oorvloed!”

Koos en Frans is reg. Niks wat ons vir God kan vra is ooit vir Hom te groot of te klein om aan aandag te gee nie. In Mattheus 7:7-11 lees ons: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word… Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”

Gaan gerus na God en gesels met Hom oor jou uitdaging. Hy stel belang – al vra jy ook vir motorsleutels of ’n vis. Sterkte!

Vader God, baie dankie dat U betrokke is my my lewe. Maak my asseblief bewus van u teenwoordigheid elke dag. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

 

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 14: ’N NUWE BEGIN... MET WYSE BESLUITE

Deur: Benescke Janse van Rensburg

Op 1 Januarie 2012 het die 33ste Dakar-tydren in Suid-Amerika afgeskop. Vir vyftien dae lank het die meer as 500 spanne ’n afstand van 8,300km afgelê wat kronkel deur die woestyne van Argentinië, Chili en Peru. Hierdie roete word as ’n uithourit eerder as ’n tradisionele tydren beskou aangesien die terrein baie taaier is. Buiten vir gewone veldwerk wat die voertuie moet verrig, is daar bykomstige hindernisse insluitend die oorsteek van sandduine, modder, kameelgras en rotse.

Een ding waarsonder geen tydrenbestuurder suksesvol sal wees nie, is ’n goeie navigator langs hom. Die navigator se werk is om die bestuurder te waarsku teen hindernisse wat in die pad mag opduik, waar om te draai, hoe skerp die draai mag wees en ook om die motor se bande om te ruil indien dit pap is. Weens die geraas in die motor dra beide die navigator en die bestuurder oorfone en mikrofone sodat hulle effektief kan kommunikeer.

Ons kan met die tydrenbestuurder vergelyk word aangesien ons ook daagliks voor ’n keuse staan: Ons kan die dag met ’n navigator aanpak (deurdat ons God vra om ons deur sy Heilige Gees te lei). Óf ons kan sonder ’n navigator in die motor klim en hoop dat ons die sandduine, modder, kameelgras en rotse (in die vorm van uitdagings in die werkplek of by die huis) op ons eie sal kan kafdraf.  

Luister gerus na hierdie drie beloftes as ons die Heilige Gees ons Navigator maak:

  • Jesaja 30:21: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’”
  • Psalm 143:10: “Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op 'n gelyk pad lei.”
  • Spreuke 3:6: “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”

Waarom nooi jy nie die Heilige Gees om van vandag af as jou Navigator in elke situasie op te tree nie? Hy sal jou nie net beskerm en lei nie, maar ook versterk wanneer dit voel asof jou bande begin pap word. En die beste van alles: Hy sal direk in jou ore praat. Al wat jy moet doen, is om sy stem te leer ken. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U ons daagliks deur u Heilige Gees lei. Help my asseblief om my ore gespits te hou sodat ek U stem sal herken en op die regte roete sal bly. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Kyk na ’n foto van Giniel de Villiers, Suid-Afrikaanse Dakar-tydrenjaer op die Stories van Hoop bladsy op die sosiale netwerk, Fbook.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.