Neville Turley

As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.  1 Johannes 1:8-9

Hierdie deel van die "Ons Vader", "en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;" fokus op beide ons verhouding met God en met mekaar.

Ons sondige menslike natuur verseker dat ons gereeld sondig en dat ons ons na God moet wend om vergifnis te ontvang. 'n Mens hoef maar net te kyk na die bybelse instruksies van hoe 'n Christen behoort te leef (Efesiërs 4:25-32) om te besef net hoeveel en hoe dikwels ons die Heilige Gees bedroef.

Daar is 'n ou Skotse spreukwoord wat sê: "Om ons sondes openlik te bely, is goed vir die siel." Vandag is Hemelvaartsdag en watter beter oomblik as juis vandag om ons sondes voor ons Opgestane Heer te bely en sy vergifnis te vra nie.

Groot geloofshelde het nooit gehuiwer om hulle sondes te bely en die Here te vra om hulle te vergewe nie. "Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens.” (Lukas 5:8) "… Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste," bely Paulus. (1 Timoteus 1:15)

In hierdie deel van die gebed leer Jesus ons dat ons dieselfde moet doen. En dan verbind hy ons verhouding met God onmiddellik met ons verhouding met mekaar. Jesus sê dat ons moet bid: "en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree."  

Hierdie is die een deel van die gebed wat Jesus onmiddellik verder verduidelik nadat Hy sy dissipels geleer het hoe hulle moet bid: "As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”  (Matteus 6:14-15)

Dit maak nie saak hoe erg dit wat iemand aan ons gedoen het is nie, ons moet vergewe voordat ons enigsins kan hoop om self vergewe te word.

Gebed: Hemelse Vader, vergewe ons vir enige woord of daad waardeur ons U bedroef het. Gee ook dat die Heilige Gees aan ons die krag sal gee om diegene wat ons seergemaak het of wie se optrede lyding veroorsaak, te vergewe. Gee dat ons optrede teenoor hulle ons liefde vir U sal weerspieël. Ons bid dit in die Naam van u Seun, Jesus Christus. Amen