Neville Turley

… Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking.  Jakobus 5:16

Gebedsmense, soos langafstandatlete, kan hulle soms teen 'n muur bevind. 'n Geestelike blok wat hulle laat glo dat hulle gebede beteken niks en verdwyn net in die niet. Wanneer dit gebeur, is dit tyd om jou houding ten opsigte van gebed te herevalueer.

Gebed is om in gesprek te wees met 'n alomteenwoordige God, om Hom te prys en te eer, te luister na wat Hy vir ons wil sê deur sy Heilige Gees wat sy woord aan ons openbaar. Ons kan slegs deur gebed ons spesifieke behoeftes aan Hom bekend maak en Hom vra om ons sondes te vergewe.

Wanneer ons bid, moet ons dit in die Naam van Jesus doen. Dit gee aan ons 'n gewaarborgde kommunikasielyn met die almagtige God. Regverdige mense in die bybelse tye was diep bewus van die heiligheid van God en het Hom gevrees.

Jesaja het in 'n visioen die heiligheid van God gesien. (Jesaja 6:1-8) Dit het hom verpletter. Hy het besef hoe onwaardig hy was om in die teenwoordigheid van die almagtige God te wees. Toe het een van die serafs Jesaja se mond met 'n gloeiende kool aangeraak en gesê: "Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.”

Dit is wat op Golgota met jou en met my gebeur het. Jesus het deur sy offer 'n nuwe bedeling vir die mensdom ingelei. Danksy Jesus is dit vir ons moontlik om deur Hom tot die almagtige God te bid en Hom as Vader aan te spreek. 'n Vader wat gewillig en gretig wag om na ons te luister.

Baie Christene volg Jesus se voorbeeld en bid met die hulp van die Psalms, die gebedeboek van die Bybel. Die 150 Psalms sluit gebede van verheerliking, danksegging, wanhoop, woede, skuld, belydenis en versoeke in. Ons moet waar moontlik gebede uit die Psalms memoriseer. Jesus het dit gedoen. Sy laaste woorde aan die kruis was gebede uit Psalm 22:1 en Psalm 31:5

Gebed met die hulp van die Psalms sal spierkrag aan jou gebedslewe gee en jou in staat stel om krag uit die woord van God te put ter versterking en troos in alle situasies.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u groot liefde waarvan niks ons kan skei nie. Gee dat u Heilige Gees ons sal help om in u lig te leef en gehoorsaam te wees aan u wil. In die Naam van Jesus bid ons dit.  Amen