Neville Turley

Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat.  Johannes 12:49

'n Godsdienssake verslaggewer wat gereeld, by die geleentheid van hulle aftrede, onderhoude gevoer het met predikante, sendelinge en voltydse Christenwerkers, het 'n standaard vraag gehad wat hy hulle gevra het: "Na 'n leeftyd van Christelike diens, waaroor is jy die meeste spyt?" Die antwoord was feitlik elke keer dieselfde: "Ek wens ek het meer tyd in gebed deurgebring."

Baie Christene sal saamstem dat hulle nie genoeg bid nie. Johannes Calvyn het gesê: "Om 'n Christen sonder gebed te wees, is net so onmoontlik as om te lewe sonder om asem te haal." Maar om jou hart in gebed voor God uit te stort, is dikwels baie moeilik.

Die mens is baie vernuftig om verskonings te vind om nie te bid nie – te besig, te veel stres, te moeg. Die duiwel sal altyd 'n rede gee om skeiding te bring tussen ons en die Vader wat gewillig is en wat wag om ons gebede aan te hoor.

Deur die "Ons Vader"-gebed het Jesus die volmaakte gebed aan sy volgelinge gegee om te bid, by onsself of saam met ander Christene.

Wanneer ons bid moet God ons eerste prioriteit wees en moet ons die Vader in die hemel, loof, dank en verheerlik. Eers dan kan ons ons eie behoeftes en die van ander na die Vader bring. Dan moet ons ons sondes bely en ons Vader vra om ons te vergewe. Dan vra ons Hom om ons teen die Bose en die versoekings in hierdie gevalle wêreld tel beskerm .

Die "Ons Vader"-gebed is 'n resep vir hoe ons moet bid.

Indien ons hierdie gebed gebruik om struktuur aan ons daaglikse stiltetyd en persoonlike gebede te gee, sal ons een wees met ons Vader in die hemel, en daar is niks beter as dit nie.

Gebed: Hemelse Vader, vergewe ons asseblief alles wat ons verkeerd doen. Gee dat die Heilige Gees ons sal help om die leringe van u Seun na te volg en so u heilige Naam te verheerlik. Ons bid dit in die Naam van u geliefde Seun. Amen