Louise Gevers

Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”   Johannes 20:29

Die uitdrukking " 'n ongelowige Tomas" word nie gewoonlik net tot Christenkringe beperk nie. Indien ons eerlik met onsself is, moet ons erken dat hierdie gesegde baie keer ook vir ons geld. In enige verhouding, maar veral in ons verhouding met God, is eerlikheid uiters belangrik, want hierdie waarde lei tot vertroue, dit breek grense af, wat weer tot groot belonings lei. Wanneer ons egter oneerlik is, selfs met onsself, benadeel ons ons persoonlike geestelike groei en vordering.

Ten spyte van ons huidige betrokkenheid by die kuberruim waar mense dikwels tasbare voordeel trek van iets wat hulle nie kan sien nie, is dit tog vir baie mense moeilik om dieselfde beginsel op hulle geloof toe te pas. Geloof is iets wat baie groter voordele het en dit stel ons in staat "om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie."  (Hebreërs 11:1) Gelowiges mag soms skepties wees oor sekere aspekte van hulle geloof, al is dit nie noodwendig oor hulle geloof in Jesus Christus self nie. Soos Tomas, glo hulle nie al Jesus se aansprake nie. Hulle erken dit egter nie eerlik soos Tomas nie, en ploeter maar voort.

"Ongelowige Tomas" was ironies 'n harstogtelik lojale dissipel van Jesus. Toe Jesus na Lasarus se dood na Judea wou gaan, en sy dissipels hom probeer keer het aangesien hulle bang was dat Hy gestenig sou word, was dit Tomas wat standpunt ingeneem en dapper gesê het: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.” (Johannes 11:16). Hy was ook die een wat, toe Jesus hulle vertel het dat Hy na sy Vader gaan, gesê het: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?” (Johannes 14:5) In ons deurmekaar wêreld van vandag trek ons steeds voordeel uit Jesus se antwoord op hierdie vraag. "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie." (Johannes 14:6) Jesus is die enigste weg na God.

Tomas was nie by die ander dissipels toe Jesus na sy kruisiging in sy opgestane liggaam aan hulle verskyn het nie, en hy het op 'n bewys aangedring voordat hy in Jesus se opstanding sou glo.

Sy ongeloof mag miskien vir ons skokkend wees, maar sy eerlikheid het die lig in sy duisternis gebring. Selfs vandag is die feit dat hy geweier het om voor te gee, 'n bemoediging vir diegene wat wat met ongeloof worstel, want ons sien hoe vol genade Jesus met Tomas handel. Sy eerlike erkenning van sy ongeloof lei daartoe dat Jesus na hom toe kom om sy twyfel te verdryf, en wanneer hy die eerste dissipel word om Jesus as Here te bely, verander dit in blye geloof. "Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” (Johannes 20:27-28)

Gebed: Here Jesus, dankie vir u begrip en geduld met my swakheid en ongeloof. Help my om altyd met U eerlik te wees sodat U al my twyfel kan verwyder en ek ook met verwondering kan sê: "My Here en my God".  Amen