Louise Gevers

My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. Filippense 2:12-13

Ouers waarsku gewoonlik hulle kinders om, vir hulle eie beskerming, soet te wees wanneer hulle alleen gelaat word. Paulus, soos 'n goeie ouer, gee dieselfde opdrag aan die Filippense. Hy weet hoe belangrik dit vir 'n mens is om op 'n onafhanklike manier die regte keuses vir oorlewing en verlossing te maak, en dat elkeen uiteindelik vir sy eie keuses verantwoordelik is.

In hierdie konteks, mag dit vir baie mense vreemd lyk om na Lot se lewe te kyk, aangesien hy sy oorleweing en verlossing lank voor Paulus uitgeleef het. Maar dit is Jesus self wat Lot se situasie as 'n voorbeeld gebruik het om te verduidelik wat gaan gebeur op dié dag wat Hy gaan terugkeer (Lukas 17:28-32) en daarom besef ons hoe belangrik dit is om God se doel met Lot en sy onvolmaakte lewe, te verstaan.

Lot was baie soos ons: 'n persoon op sy lewensreis met al die seëninge, probleme en keuses. Toe Abram hom die keuse gegee het om eerste die land te kies, het hy dit gedoen vir sy eie gewin: "Lot het toe rondgekyk en gesien die hele Jordaanstreek tot by Soar het so volop water soos 'n tuin van die Here, … Lot het die hele Jordaanstreek vir hom gekies en hy het ooswaarts versit. So het die twee van mekaar geskei." (Genesis 13:10-11) Hy het egter nie goeie oordeel aan die dag gelê oor die gebied wat hy gekies het nie en "tot by Sodom het hy gaan tent opslaan" waar die inwoners "sleg [was] hulle het baie gesondig teen die Here." (Genesis 13:12-13)

Alhoewel hy daar sakesukses behaal en 'n prominente inwoner geword het, het sy selfgesentreerde keuse hom gereeld aan die sondige omgewing blootgestel, wat stadig maar seker sy waardes laat vervaag het. Hoe weet ons dat sy geestelike lewe nie meer so belangrik vir hom was nie? Hy was gewillig om die kuisheid van sy twee dogters prys te gee toe die mans in die stad geweldadig geraak het en seksuele bevrediging geëis het van die twee engele wat in Lot se huis was en deur God gestuur is om Sodom te vernietig.

Dit is dus nie 'n verrassing dat Lot geen geloofwaardigheid onder die mans van Sodom gehad nie: “hierdie kêrel het as vreemdeling hierheen gekom, en nou wil hy regter speel" (Genesis 19:9) Dieselfde geld ook sy verhouding met sy toekomstige skoonseuns: “Kom uit hierdie plek uit, want die Here gaan hierdie stad verdelg,” maar hulle het gedink Lot maak 'n grap." (Genesis 19:14)

Selfs toe daar van hom verlang is om die belangrike keuse te maak om te vertrek, klou hy steeds vas aan dit wat hy moet opgee, vasgevang in oorvloed en 'n onvermoë om toe te gee. Dit was slegs God se genade wat hom en sy gesin van vernietiging gered het: "Toe Lot nog talm, het die twee mans hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand gegryp en hulle uit die stad uit gevat, want die Here het Hom oor Lot ontferm." (Genesis 19:16)

Die storie eindig egter nie hier nie. Alhoewel Lot ontsnap het danksy God se uiterste geduld met hom, is dit egter duidelk dat daarna sy keuses hom steeds in 'n onbenydenswaardige posisie plaas. Wat egter wonderlik is, is dat God in sy genade steeds sy goedheid deur die gebrekkige mensdom sigbaar maak. Mag dit ons bemoedig terwyl ons nederig as verloste mense leef.

Gebed: Heilige Vader, help my om nederig en ontvanklik vir u leringe te leef en om nie keuses te maak wat my waardes ondermyn nie, maar wat tot 'n vol lewe sal lei, gereed vir die koms van Christus. Amen