Danny Fourie

Kennis begin met die dien van die Here ... Spreuke 1:7 (19830vertaling)

Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis ... Spreuke 1:7 (1953-vertaling)

In Gibeon staan 'n jongman op sy knieë. Dit is koning Salomo. Hy bid die Here vir wysheid om sy volk te regeer. God gee hom die wysheid op so 'n besondere manier dat die wysheid van Salomo tot vandag toe spreekwoordelik is. Met sy eerste regspraak blyk sy wysheid al. “Toe beveel die koning: ‘Bring vir my 'n swaard!’ Hulle het die swaard gebring, en die koning het gesê: ‘Sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle 'n helfte!’” (1 Konings 3:16-28).

In 1 Konings 4:29 lees ons: “God het aan Salomo baie groot wysheid en verstand gegee en insig in soveel sake as wat daar sand aan die see is.” Ons lees ook dat Salomo drieduisend spreuke en meer as ʼn duisend liedere geskryf het. Salomo se roem het oor die hele destydse wêreld bekend geword. Selfs die koningin van Skeba het daarvan gehoor en hom besoek. In 1 Konings 10:7 sê sy die gevleuelde woorde: “Nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is nie.”

In die Bybel kry ons die boeke Spreuke, Prediker en Hooglied uit Salomo se pen. Spreuke bevat 'n skat van wysheid waaroor ek in hierdie maand wil gesels. Dit kan met 'n snoer pêrels vergelyk word, vol pragtige pêrels. Soms in die vorm van beeldspraak, soms direk op die persoon af. Die spreuke hou kontak met die alledaagse lewe. Salomo staan met albei bene op die grond, terwyl sy hart van die openbaring van God getuig. Onthou God het hom hierdie wysheid gegee. Hy praat nie as 'n sedeprediker nie, maar soos 'n vader wat sy seun of dogter onderrig.

Sy spreuke raak alle fasette van die lewe, die huwelik, die gesin, die lewe van jongmense, werk, eet en drink en talle ander situasies. Oor al hierdie situasies laat Salomo die lig van God se openbaring skyn en lei op so 'n manier die leser op die pad van die lewe.

Gebed: Here, dankie dat ons diep in ons hart weet dat dit die beginsel van kennis is om U te dien en te gehoorsaam. Soos wat Salomo vir wysheid gebid het, bid ons dat ons die wysheid in die Bybel sal benut om vir U te leef. Amen.