Danny Fourie

Kennis begin met die dien van die Here ... Spreuke 1:7 (1983-vertaling)

Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis ... Spreuke 1:7(1953-vertaling)

Die “vrees van die Here” is die tema van die hele Spreuke. Salomo laat hierdie lig op die lewe skyn om ons van die wieg tot die graf te lei. Telkens sal blyk wat hier geskryf staan: “Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.” Wanneer 'n mens oor hierdie tema wil nadink, is ons eintlik besig om 'n geheim te ontrafel. Die ontrafeling sal as 'n verrassing vir ons kom.

Wat die vorm van hierdie spreuk betref, bestaan dit uit twee dele. Die twee dele kan 'n parallel vorm, maar dit kan ook 'n teenstelling inhou. Laasgenoemde is op hierdie spreuk van toepassing. Die teenstelling onderstreep wat Salomo wil sê, naamlik dat die ware kennis (wysheid) die wonderlikste geskenk van God is en dat dit dwaas is om om hierdie geskenk te verag.

Die vraag waarna ons eerste moet kyk, is wat verstaan Salomo onder kennis (wysheid)? Is ware kennis om 'n goeie verstand te besit, 'n sterk geheue, 'n bekwaamheid tot oordeel? Dit is nie ware kennis nie. Dit is 'n seën as 'n mens al hierdie gawes besit, maar die ware kennis of wysheid is ver bo dit. Is ware kennis dan die kuns om ander met sluheid te vang? Dit is duidelik dat dit niks met ware kennis te make het nie.

Die verskil tussen ware en vals kennis is dat ware kennis van bo kom en vals kennis van onder. Ware kennis kom van God en vals kennis kom van uit die sondige mens op. Salomo noem ware kennis heel betekenisvol “die vrees van die Here” (1953-vertaling). Ware kennis ontstaan as 'n mens luister na wat God in sy Woord sê. Ware kennis is verstrengel met geloof. Geloof ontstaan uit die hoor van God se Woord. So is ook die ware kennis uit die Woord.

Wanneer 'n mens die Woord van God hoor en ter harte neem, dan breek daar by jou en my 'n ware kennis deur. Dit is 'n kennis en wysheid deur die verligting van die Heilige Gees.

Gebed: Dankie Here vir die wonderlike geskenk van die kennis wat U ons gee. Help ons om dit met vreugde aan te gryp sodat ons in ons geloof kan groei.  Amen