Louise Gevers

… maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. Jesaja 40:31

Wat is hoop? Vier ons die dinge waarvoor mense elke dag wens, groot en klein dinge, goed wat ons nou dadelik wil hê of dinge wat ons op 'n wenslys plaas? Baie hiervan mag dalk net wense bly en nooit realiseer nie.

Kyk 'n mens na huidige omstandighede in ons land en in die wêreld, word dit duidelik dat wat dikwels ontbreek, mense is wat vir ander hoop kan bring in donker, moeilike omstandighede. Maar hulle kan slegs hoop bring as hulle hoop het. Metafories gesproke bring blinde leiers slegs wanhoop; leiers kan slegs inspireer wanneer hulle in 'n groter krag as hulleself glo. Die dinge van hierdie wêreld sal nooit ware hoop bring nie, want hoop wat vir die hier en nou is, is nie ware hoop nie, en leiers wat nie 'n groter bron van verwysing as hulleself het nie, het baie min om aan te bied.

Hoop word in elke faset van die lewe benodig. Salomo het opgemerk, saam met elke vrou wat nog ooit gewag het om swanger te raak, dat "’n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar ’n wens wat uitkom, is ’n lewensboom." (Spreuke 13:12, 1933/53-vertaling) Ons sien so dikwels die negatiewe effek wat lang, pynvolle jare van wag kan hê op die lewens van diegene wat wag op aardse dinge.

Dit is nie die tipe hoop waarna die Bybel verwys nie, of die hoop wat gelowiges vier nie. Hierdie hoop bring vertroue want gelowiges "verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. … en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het." (Romeine 5:2,5) Hoop is deel van geloof. Lees Hebreërs 11:1.

Wanneer Christene hoop vier, is dit soos om 'n troue met al sy prag en praal te vier. Dit is iets wat groot belofte inhou. Daar sal soveel meer daaruit voortvloei, as net dit wat ons op die troudag sien gebeur.

Die belangrikste is dat die huwelik twee mense in 'n verhouding voor God en sy wet verenig. Dit voeg twee families saam en daar is 'n belofte van 'n nuwe bloedlyn deur die kinders wat die paartjie mag hê wat hulle nog verder sal saambind. Maar veel meer gebeur. Die kinders, die vrug van hulle huwelik, bring nuwe lewe en groot blydskap in die familie, en op hulle beurt hou die kinders groot belofte in.

Die huweliksbelofte is bevrydend aan die begin van 'n nuwe lewe saam, 'n lewe waar liefde en omgee vir mekaar die paartjie verryk en hulle bemagtig om te floreer en nuwe hoogtes te bereik. Dit is presies wat ons hoop in God vir ons doen. "Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop." (Habakuk 3:19)

Die skape is veilig – en ons vier!

Gebed: Almagtige, wyse Vader, dankie dat die hoop op u verheerliking ons begrip van hoop hier op aarde laat fokus op dinge wat ons nie sien nie en wat ons help om u goedheid te vier. Amen