Benescke Janse van Rensburg

Op 6 September verlede jaar het Amber Guyger, 'n van diens af polisiekonstabel in Dallas, Amerika 'n jongman, Botham Jean in sy woonstel doodgeskiet. Sy het haar misgis en gedink dat sy in haar eie woonstel was. Sy het Jean as 'n inbreker aangesien en hom doodgeskiet. Guyger is in Oktober vanjaar aan moord skuldig bevind en tot 10 jaar tronkstraf gevonnis.
 
Gedurende die getuienis ter verswaring het Jean se jongste broer, Brandt die volgepakte hofsaal verras deur in stede daarvan om te getuig oor hoe seer hulle as gesin gekry het (want hulle het), het hy gesê: "Ek vergewe jou. Ek weet as jy na God gaan en jy vra Hom, sal Hy jou ook vergewe. Ek is lief vir jou soos enigiemand anders en ek wil die beste vir jou hê. . . Dit is wat my broer vir jou sou wou hê . . . Dat jy jou lewe vir Christus moet gee." Hy het selfs 'n stap verder gegaan en die regter gevra of hy Guyger 'n drukkie kan gee. Dié optrede het snikke regdeur die hofsaal laat opklink.
 
Brandt het verstaan dat vergifnis beteken om die oordeel aan God oor te gee terwyl jy wat seergekry het met vryheid kan wegstap. In Kolossense 3:13 lees ons: "Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe." In Matteus 6:14 staan geskryf: "As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe." En in Efesiërs 4:31-32 word ons herinner: "Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het."
 
Wie is daardie persoon wat jou seergemaak het? 'n Huweliksmaat wat jou verneuk het? Iemand wat jou gemolesteer of verkrag het? Is dit dalk iemand wat jy vertrou het wat jou lelik te nagekom het?
 
Kom ons neem die situasie vandag na God en gee dit oor aan Hom. Kom ons vra Hom om ons in staat te stel om te vergewe en vry te spreek. Wanneer ons dit doen sê ons nie wat aan ons gedoen het, is reg nie. Ons kies bloot om nie langer toe te laat dat bitterheid ons lewens vergiftig nie. Nee, ons kies om God te vertrou terwyl ons vryheid en genesing in ons lewens smaak. Sterkte.
 
Vader God, baie dankie dat U my volkome vergewe van my sonde wanneer ek waarlik berou het. Help my asseblief om  (noem die situasie) te vergewe en nie langer 'n wrok te koester nie. Help my asseblief om ook in vryheid te leef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 

Sien video en foto's van die hofsaak by www.benescke.co.za of
  o Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop
  o Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop

Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.