Deur Benescke Janse van Rensburg

Dit was ’n snikhete dag in die Sinai-woestyn waar Moses skape opgepas het. Skielik het ’n brandende doringbos sy aandag getrek. ’n Bos wat nie uitbrand nie. Nuuskierig het hy nader gestap voordat ’n stem uit die bos hom in sy spore stuit: “Moses! Moses! Moenie nog nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is heilige grond.” Uit vrees het Moses sy gesig verberg, wetende dat die Lewende God met hom as feilbare mens kom ontmoet het.

God het Moses uitgekies om die Israeliete uit Egipte te gaan bevry. Moses was bang. Hy was onseker oor sy vermoë om dit te doen. Meer nog, hy het geweet dat hy sou moes teruggaan na die een plek waarvandaan hy weggevlug het. “Wie moet ek sê het my gestuur,” het hy huiwerig gevra. God se antwoord was eenvoudig: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

Wie is hierdie EK IS vir jou? Waaraan dink jy eerste as jy aan God se karaktereienskappe dink? Sy liefde? Sy voorsiening? Sy beskerming? Sy bonatuurlike krag? Sy almag? Wanneer ons God se karakter begin ken, word dit makliker om Hom in moeilike, onseker tye te vertrou.

In Psalm 18:31 lees ons: “Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy.” In 1 Johannes 4:8b lees ons: “God is liefde.” En in Hebreërs 13:8 staan geskryf: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”

God verander nooit nie. Hy is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde. Vir Februarie-maand, die maand van liefde, wil ek fokus op God se karaktereienskappe. Ek vind dat sodra ons beter weet wie Hy is, dit vir ons makliker word om soos Moses met groter selfvertroue die skynbaar “onmoontlike” take in ons lewens aan te pak. Hoekom? Omdat ons weet dat as Hy ons in ’n bepaalde rigting lei, Hy elke tree by ons sal wees. Sterkte.

 

Vader God, baie dankie dat U nooit verander nie. Lei my asseblief deur U Heilige Gees om in hierdie maand wat voorlê U karakter beter te verstaan. Ek begeer ’n nouer verhouding met U. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

Nota van skrywer: Ek wil jou uitnooi om interaktief deel te neem aan die reeks. Ek gaan die reeks van A tot Z doen. Môre begin ons met die letter “A”. Aan watter eienskappe van God dink jy onder die “A”? Jy kan ’n epos stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. om klik hier en gesels saam op Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/. Groete Benescke