Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Q-skip is ’n oorlogskip wat tydens oorlogtye as ’n handelskip vermom word. Wanneer die vyand naby genoeg aan die skip kom, word die vermomming afgegooi en die kanonne uitgepluk om die vyand af te weer.

Die 18-jarige, Siyamthanda Mtyeku het alle reg gehad om homself jammer te kry. Nie net woon hy saam met 4 ander mense in ’n een-slaapkamer-vertrek in ’n informele nedersetting in Kaapstad nie; die een bord kos van die voedselskema by die skool was menigmale sy enigste kos vir die dag.

Saam met sy hongerte moes Siyamthanda homself staal teen die harde kroegmusiek van oorkant die pad terwyl hy vir sy eindeksamen studeer het. Hy het hom nie laat onderkry nie en die eindeksamen met 7 onderskeidings geslaag. Weldoeners was geïnspireer deur sy storie en Siyamthanda begin eersdaags medies studeer met ’n volle beurs!

Ons almal is geskep om ’n waardevolle oorlogskip te wees met ’n buik vol “ammunisie” - oneindige potensiaal. Teleurstelling, seerkry of ’n minderwaardigheidskompleks weens ’n slegte agtergrond of omstandighede veroorsaak dikwels dat ons die vermomming oor ons trek. Ons verkies om ’n “handelskip” te wees uit vrees dat ons weer seerkry.

In Jesaja 43:15-17 herinner God die Israeliete dat Hy in beheer is: “Ek is die Here, julle heilige God, die Skepper van Israel, julle Koning. So sê die Here, Hy wat 'n pad gemaak het deur die see, 'n deurgang deur die magtige waters . . .Ook in Filippense 4:13 lees ons: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee.”  En inPsalm 43:5 lees ons: “Waarom is ek so neerslagtig en bekommerd? Ek moet my verwagting op God stel en Hom ook onder hierdie omstandighede prys, want Hy is my Redder en my God.”

Wat sou gebeur het as Siyamthanda homself jammer gekry het? Of sy situasie blameer het en daarom tou opgegooi het?

Mag ons onthou dat God ons elkeen geskep het om ’n Q-SKIP te wees. Dit is Hy wat vir ons ’n pad deur die see maak en ons vul met moed, krag en deursettingsvermoë as dinge rof raak. Al wat ons benodig is om die “vermomming” af te gooi om Hom toe te laat om ons te help besef watter potensiaal Hy binne ons elkeen geplaas het! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U in beheer van my lewe bly. Help my asseblief om nie toe te laat dat omstandighede my onderkry nie, maar dat ek sal onthou dat dit U is wat die pad vir my oopmaak waar dit nodig is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Lesers se karaktereienskappe van God rondom die letter “Q”:
  • LETTER R: Aan watter eienskappe van God dink jy onder die “R”? Jy kan ’n epos stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. om lewer kommentaar hier: