Deur Benescke Janse van Rensburg

Staan jy vandag by ’n kruispad waar jy ’n bonatuurlike strategie uit God se hand benodig? Is jy bereid om gehoorsaam te wees as God jou lei om iets te doen - al maak dit nie sin nie?

Gideon moes 32,000 mans huis toe stuur om met net 300 mans ’n oormag te bestorm. Hulle was verreweg in die minderheid. Omdat hy gehoorsaam was aan God se strategie, het hulle die oorwinning behaal (Rigters 7).

Moses en die Israeliete was in ’n geweldige moeilike situasie. Agter hulle was die gevreesde Egiptenare op pad. Voor hulle was die bruisende Rooi See. Omdat Moses gehoorsaam was aan God om met sy stapstok op die water te slaan, het ’n pad deur die see oopgegaan sodat hulle op droë grond kon deurstap (Eksodus 14).

Ook Dawid het geleer dat God se strategieë telkens oorspronklik en uniek is vir die ’n spesifieke situasie. Hy was pas as koning van Israel aangewys toe die Filistyne in die Spooklaagte teen hulle optrek. In stede van net luister na sy wyse raadgewers, het Dawid na God gegaan. Hy wou weet of hulle moes veg en indien wel, met watter strategie? Omdat hulle God se strategie gevolg het, het hulle die oorwinning behaal.

Kort hierna het die Filistyne ’n tweede aanval geloods op presies dieselfde plek. Dawid en sy weermag kon maklik die vorige strategie gevolg het. Dit het immers gewerk. Hy is egter terug na God. Weer wou hy weet of hulle moes gaan veg en indien wel, met watter strategie? Die keer het God ’n totaal ander strategie gegee. Hulle het dit gevolg en daarin geslaag om die Filistyne veel verder te verdryf (2 Samuel 5:17-25).

In Jakobus 1:5 lees ons: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Ook in Spreuke 3:5-6 staan geskryf: Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.” En in Jesaja 30:21 word ons daaraan herinner dat die Heilige Gees ons vandag nog lei: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’”

God se strategieë is OORSPRONKLIK en kreatief. Wat die vorige keer gewerk het in jou huwelik, in jou verhouding met jou kinders, in die werkplek, in jou finansies of met jou gesondheid, gaan dalk nie hierdie keer weer werk nie. Kom ons leer van Dawid en gaan vra elke keer vir God sy oorspronklike strategie vir elke situasie. Hy wil en kan ons lei om ook die oorwinning te behaal. Sterkte.

Vader God, ek benodig vandag wysheid (noem in watter opsig). Lei my asseblief vandag deur u Heilige Gees met ‘n oorspronklike strategie. Help my ook om braaf genoeg te wees om dit te volg. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Lesers se karaktereienskappe van God rondom die letter “O”: Opperwese, Opperhand, Oraloor, Oppergesag.
  • LETTER P: Aan watter eienskappe van God dink jy onder die “P”? Jy kan ’n epos stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. om lewer kommentaar hier: