Hennie Symington

Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dis helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit. Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte … Openbaring 22:1-2

God maak al van die begin van tyd en in ewigheid tuin, waar Hy omsien na die diere en plante van die tuin en sorg dat die klimaat geskik is vir die lewe om te gedy. Maar God se tuindienste eindig nie hier nie. Dit reik tot aan die einde van tyd en tot in die nuwe hemel en die nuwe aarde. In Openbaring lees ons van die Nuwe Jerusalem en die lewende water, die boom van die lewe wat aan die ander kant van die rivier staan wat elke maand vrugte lewer wat genesing bring vir die nasies.

Helaas, die mens laat toe dat hierdie kosbare paradys, wat as 'n veilige beskutting moes dien, deur sy vingers glip. In plaas daarvan dat hulle in die tuin aanbly volg die man en vrou hulle eie kop en word verban uit die tuin van Eden. Hoekom? Hulle wou die lewe op hulle eie terme aanpak. Hulle reik na die verbode vrug in die hoop dat hulle soos God self sal wees. Wat 'n kolossale misrekening aan hulle kant! In plaas daarvan dat hulle kennis ontvang, word hulle summier uit die volmaakte paradys verban.

Wat beteken hierdie sogenaamde “mite” of verhaal van Adam en Eva vir ons? Vir ons is dit die prototipe van die moderne mens. Ons almal ly aan 'n kongenitale of ingebore kortsigtigheid. Ons het nie die insig om die gevolge van ons optrede volkome te begryp nie en wanneer dinge vir ons skeefloop blameer ons graag ander of die duiwel en selfs God. Die verhaal van Adam en Eva is inderdaad ook ons verhaal.

Gebed: Here, soos Adam en Eva kyk ons met 'n rooskleurige bril na ons optrede. Ons sien net raak wat ons graag wil. Ons maak en breek soos ons goed dink, en in die proses blameer ons almal behalwe onsself of pak die skuld vierkantig op die duiwel. Vergewe ons dat ons ons so maklik verontskuldig. Amen