Hennie Symington

Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Efesiёrs 4:15

Ons almal ken die verhaal van die koning wat sonder ‘n draad klere deur die strate geparadeer het omdat hy so liggelowig was, tot almal se  vermaak.

Soms tree ons net so verspot op deur leuens te glo wat duidelik nie waar is nie. Dikwels is dit die grootste leuen wat ons die maklikste glo. Daar is geen twyfel dat leuens enorme skade kan aanrig nie. Leuens het nie net ‘n impak op die een wat jy belieg nie, maar ook op die een wat die leuen vertel en versprei.

Elkeen van ons hou daarvan om te glo dat ons nie so sondig, selfsugtig of liefdeloos in die oё van ander is as wat ons dink nie. Wanneer ons dit glo, glo ons dat ons OK is en voor jy weet staan jy naak en skaam voor God en jou medemens.

As jy ernstig is om te groei in Christus en om eerlik en opreg teenoor ander op te tree, is dit nodig om ontslae te raak van die versteekte agendas en die selfregverdiging van jou optrede. Dalk is dit vir jou lekker as jy mense kan manipuleer om te glo wat jy glo, maar wat baat dit jou as jy die hele wêreld wen maar jouself verloor? “Wyk Satan!” was Jesus se woorde aan Petrus toe hy probeer het om Christus te manipuleer om te doen wat hy, Petrus, gedink is reg. Pasop dat hierdie teregwysing nie ook op jou van toepassing is nie.

Gebed: Here, dis so maklik om myself te verontskuldig en ander om die bos te lei. Ek vergeet tog te gerieflik dat U deur ons sien in al ons naaktheid. Leer my ten alle tye die waarheid na te streef. Amen