Louise Gevers

Hy het gesê: Ek het U baie lief, Here, my Sterkte. Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.

Psalm 18:2-3

Ons begin vandag ons oordenking met pragtige woorde van aanbidding en vertroue wat die psalmdigter se seker wete dat die Here te alle tye sy sterkte is, beskryf. Waarheen ons ons wend wanneer ons bang is of wanneer dinge verkeerd gaan in ons lewens, of na wie ons ons wend vir hulp en ondersteuning is uiters belangrik.

Elke dag ervaar ons nuwe stres by die huis en in ons wêreld waardeur ons moet werk. Ons raak soms baie gefrustreerd, kwaad en ontnugter wanneer ons beste pogings deur dinge buite ons beheer gedwarsboom word. Ons stry voort te midde van die onvoorspelbaarheid wat deur beurtkrag, foutiewe WiFi, swak diens en aflewering en onbetroubare vervoer, veroorsaak word. Voeg daarby die onsekerheid, lyding en angs wat die koronavirus te weeg bring.

Ons benodig daardie volkome sekuriteit en krag wat Dawid in God as sy veilige vesting ondervind het. Hy het nie in sy tyd die bekommernis oor WiFi, paniekaankope of elektrisiteit geken nie, maar hy tog daaglikse angs en uitdagings beleef. As 'n jong seun wat sy pa se skape moes oppas, was hy maar net met 'n staf, 'n slingervel en geloof toegerus. Dit het hom geleer om op God te vertrou en dit het hom voorberei vir groter dinge later.

In tye van moeilike uitdagings en verskriklike beproewings het Dawid se geloof gegroei. Om 'n leeu of 'n beer wat een van sy trop skape weggedra het te konfronteer, was nie maklik nie, maar Dawid het geweet dat: “Die Here, (hom) gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, … " (1 Samuel 17:37) Later het God hom ook uit die hand van Goliat, die Filistynse reus, verlos. God was Dawid se Sterkte, maar Hy kan ook ons Sterkte wees.

Elkeen van ons is ongetwyfeld op verskillende plekke van die pad wat ons met die Here stap, maar Hy ken ons en gee om vir elkeen van ons. Hy ken ons reeds van toe ons nog in ons moeder se baarmoeder was. Ons hoef miskien nie letterlik elke dag teen wilde diere te veg nie, maar elke dag kom ons op alle gebiede voor talle uitdagings te staan – waarvan sommige in ons eie situasie net so verskriklik as 'n aanval deur wilde diere is.

Kyk vandag met geloof en aanbidding op na Hom, ons veilige vesting.

Gebed: Liewe Vader, dankie dat U ons skild en sterk verlosser is in tye van nood. Help ons om in hierdie moeilike tye waarin ons leef, ons na U te wend en gee dat deur elke toets ons in geloof sal groei en dat ons deur Jesus Christus, ons Here, sal oorwin. Amen