Louise Gevers

Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.  Hebreërs 1:3

Die verskillende mylpale van ons kinders se ontwikkeling, asook die vernaamste gebeure in ons lewens, is vir ons baie belangrik. Wat dit so spesiaal maak, is dat hierdie dinge nie sommer maklik bereik word nie. Dit neem dikwels baie moeite, tyd en opoffering.

Soms verdien so 'n mylpaal om in blydskap heelhartig met ander gevier te word, iets wat almal inspireer en ryker laat voel omdat hulle deel daarvan was. Ander kere is dit genoeg om die herinnering net in ons harte te koester. Wat die herdenking van die hoop wat God deur die Bybel bring betref, moet dit gevier word.

Ons het onlangs iets hiervan beleef tydens 'n dinee om God se goedheid en getrouheid in die werk van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika die afgelope 200 jaar, te vier. Daar was definitief in al die jare, net soos in die geval van Dawid, bere, leeus en reuse om mee te worstel – en hierdie spesiale jaar is geen uitsondering nie – maar God is op die troon en "Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand."

God se liefdevolle voorsiening deur die jare het dit moontlik gemaak vir die Bybel om vertaal te word in die hartstaal van elke spreker van een van die 11 amptelike tale in ons land, en om so deur die Evangelie hoop te bring. Die bekendstelling van die Bybel vir Dowes, die Braillebybel vir blindes en die Bybel aanlyn is alles redes tot blydskap, en die werk duur steeds voort. Die vertaling van die Bybel vir kleiner taalgroepe, die hersiening van bestaande vertalings en die ontwikkeling van geletterdheidsmateriaal beteken dat almal eendag die vrugte sal kan pluk van die hoop wat nou gesaai word.

Hierdie hoop is 'n lighuis vir ons land in hierdie tyd. Ons het die geleentheid om waar ons staan as individue en as 'n nasie, te herevalueer. Ons benodig genesing en verandering. Ons vers vir vandag herinner ons daaraan dat Jesus as die oorwinnaar regeer omdat Hy getrou was aan sy sending om verlossing deur die kruis te bring. Sal ons sy voorbeeld volg, en hierdie mylpaal in ons geskiedenis as 'n oorwinning vier?

Luister hoe Paulus ons bemoedig: "Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed." (Romeine 12:12) en, "Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!" (Romeine 15:13)

Gebed: Here Jesus, U is die bron van hoop en genesing. Help ons om nederig in hierdie tyd tot U te nader en u leiding deur u kragtige woord te volg totdat ons die oorwinning behaal. Amen