Charlea Grey 

Dit het gereën en die riviere het vol water geword. Die winde het hard gewaai en dit het die huis geruk. Maar die huis het nie omgeval nie, want die man het sy huis op die rots gebou. Matteus 7:25, Bybel vir Almal
 
Jesus het graag vir die mense wat Hom gevolg het, gelykenisse vertel. Stories. ’n Gelykenis is ’n kort storie wat God se boodskap verduidelik deur ’n voorbeeld te gebruik. Jesus het dit gedoen sodat die boodskap wat hy wou oordra, meer toeganklik en verstaanbaar was vir die hordes mense wat kom luister het wanneer hy gepraat het.
 
En is dit nie wonderlik nie? Die gelykenisse in die Bybel was nog altyd van my gunsteling-gedeeltes. Juis as gevolg van die eenvoud daarvan – die storie met ’n duidelike, verstaanbare les.
 
Jesus het uiteraard geweet dat ingewikkelde woorde en verduidelikings nie vir almal ewe sinvol gaan wees nie. Met sy stories kon hy iets regkry – hy kon mense meevoer en hulle help om in hul verbeelding ’n prentjie te skep om eindelik te verstáán wat God vir hulle wil sê.
 
Ja, die gelykenisse in die Nuwe Testament is vir baie mense van die bekendste gedeeltes in die Bybel. Dis ook die stories wat ons dikwels die beste kan onthou. Dalk het jy ook grootgeword met die Jan de Wet-liedjie waarin ons sing: “Die wyse man bou sy huis op die rots ... Die wyse man bou sy huis op die rots ... En die reën het neergeval ...”
 
Die gelykenis oor die wyse man wat sy huis op ’n rots gebou het, en die dwase man wat sy huis sommer net so op die sand gebou het, is baie bekend. Die huis wat op die rots gebou is, het vas gestaan toe die storms woed. Die huis op die sand het sommer vinnig weggespoel.
 
Dit was ’n goeie besluit om die rots as fondament te gebruik, maar die bouwerk was vir seker meer moeite.
 
Jesus wil hê ons moet ons lewens op ’n stewige fondament bou. Hy wil hê ons moet die dinge wat Hy ons leer, as fondasie gebruik. As ons spreekwoordelike huis op sand gebou is, kan die wêreld se dinge, die uitdagings van die lewe, ons baie vinniger en makliker oorweldig.
 
Helaas is dit so dat ’n huis met ’n rots as fondament, harde werk verg. Jy moet diep grawe as jy by ’n rots wil uitkom om daarop te bou. Dit gebeur nie oornag nie. Dit verg toewyding, tyd en moeite. Eintlik verg dit ook beplanning en ’n doelgerigte houding.
 
As jy dalk, soos ek, soms wonder of jou huis se fondasie stewig genoeg is, kom herontdek hierdie week Jesus se stories en die lesse wat hy vir ons wil leer, saam met my.
 
Gebed: Here Jesus, dankie dat U iets so eenvoudig soos ’n storie kan gebruik om my te herinner aan die basiese, maar wonderlikste lewenslesse in u woord. Amen.