Charlea Grey

Toe roep die koning die eerste amptenaar en sê vir hom: ‘Jy is 'n slegte amptenaar! Jy het gesoebat en ek het gesê jy mag die geld hou, dit is nie nodig dat jy daardie skuld betaal nie. Jy moes ook jammer gewees het vir die ander amptenaar, soos ek jammer was vir jou.’  Matteus 18:32-33, Bybel vir Almal
 
Het jy al ooit gevoel dat iemand jou onregverdig behandel het?
 
Ek dink nie daar is baie van ons wat kan sê ons voel nie asof ons al iewers in ons lewe te na gekom is nie.
 
Dalk voel jy jou harde werk, ekstra ure, lojaliteit en toewyding word misgekyk by die werk. Dalk voel jy familielede aanvaar jou as vanselfsprekend en toon nooit waardering vir die ekstra myl wat jy stap nie.
 
Daar is sekerlik groot dinge wat ’n ernstige impak op jou lewe gemaak het – dinge wat ander mense dalk aan jou gedoen het, wat jou woendend gelaat het. Dan is daar dalk ook kleiner dingetjies – goed wat nie noodwendig aardskuddend was nie, maar met tye ’n wrang smaak in jou mond los, ’n bitterheid in jou hart.
 
Ek sukkel met so ’n gevoel. Iemand het verkeerd teenoor my opgetree en my eintlik geboelie om iets te doen, wat ek nie eintlik wou doen nie. Dis ’n langdradige storie, vreeslik kompleks, en dalk ook nie eers so 'n groot ding nie. Maar die punt is, dit het my vir ’n hele ruk gepla.
 
In die gelykenis van die slaaf wat nie wou vergewe nie, lees ons oor die belangrikheid van vergifnis. Ons moet ander mense vergewe juis omdat God ons vergewe het. Ons moet dus altyd onthou, ons is nie perfek nie. Ons maak foute, ons sondig en God vergewe ons wanneer ons om vergifnis vra. Ons moet daarom ook ander mense vergewe wanneer hulle foute maak en vir ons jammer sê.
 
Ek dink wel die groter uitdaging is om mense te vergewe selfs al het hulle nie jammer gesê nie. Party mense gaan nooit vir jou jammer sê nie. Party mense besef nie eers hulle het jou te na gekom nie. Tog, glo ek, moet ons probeer om daardie mense steeds te vergewe.
 
Soms moet jy dit om jou eie onthalwe doen. Want vergifnis kan jou bevry, vergifnis kan jou help om minder kwaad te voel. Hoë bloeddruk is in elk geval nie goed vir jou gesondheid nie.
 
Gebed: Vader, dankie dat U my vergewe wanneer ek sondig. Here, help my om mense wat teenoor my sondig te vergewe. Maar help my om ook die mense wat my te na kom en my verkeerd behandel, maar nooit jammer sê nie, te vergewe. Amen.