Charlea Grey 

En as daar 'n vrou is wat tien geldstukke het en sy verloor een, wat doen sy? Sy maak lig met 'n lamp, sy vee die huis uit en soek oral totdat sy dit kry. Lukas 15:8, Bybel vir Almal
 
Ek was ’n kleuter toe my ouers destyds vir my en my broer ’n CD van Soekie en die Radikids gekoop het. Og, ek was gek oor daardie CD. Een van die lekkerste liedjies op die album, se naam is “Lukas 15”. As gevolg van dié catchy liedjie, onthou ek basies vandat ek kan onthou, die storie oor die verlore muntstuk. (Gaan luister gerus hier, as jy wonder hoe dit klink. https://www.youtube.com/watch?v=qdRg9wYt3ic)
 
“In Lukas 15 lees ek van ’n vrou en hierdie storie wil ek graag onthou ...” begin die liedjie. En later gaan die refrein. “En die vrou het gesoek. Soek, soek, soek. Onder die tafel. Soek soek soek ...”
 
So gaan dit aan totdat die vrou haar geldstuk met behulp van ’n lamp vind. Sy roep die bure nader, vier fees en dans oral waar sy gesoek het. (Selfs in die laai! Ha!)
 
Wat ’n mooi, kort storie met trefkrag.
 
In Lukas 15:10 verduidelik Jesus die betekenis van die gelykenis: “Ek sê vir julle, so sal die engele van God bly wees oor een sondaar wat verander en doen wat God wil hê.”
 
Dis wonderlik om te weet dat God nooit opgee nie – dat Hy altyd sal aanhou om na ons, sy geliefde kinders, te soek wanneer ons afdwaal. Dis omdat hy waarde aan ons heg. Dis omdat ons vir Hom belangrik is dat Hy die tyd en moeite sal neem om na ons te soek.
 
Tog, as ek aan die storie dink van die vrou wat so onverpoosd bly soek het, kan ek nie help om ook te dink aan hoe ek soms na dinge kan soek nie. Ek praat nou nie van dinge wat ek verloor nie. Ek praat van materialistiese goeters en dinge wat ek graag wil hê. Ag, dit kan enigiets wees. Boeke, klere, skoene, huisgoed. Noem maar op.
 
En as ek myself eers oortuig het van hoekom ek die spesifieke ding móét hê, kan ek nogal vasberade begin soek. Ek kan soek en soek en Google en winkels toe gaan en navorsing doen en na spesiale aanbiedinge soek, totdat ek uiteindelik die item gevind en aangeskaf het.
 
Wat is my punt? My punt is dat ek toe besef het dat ek nogal maklik baie tyd gebruik om na aardse dinge te soek (en ja, dit het ook sy tyd en plek). Maar hoe gereeld doen ek moeite om na God te soek? Om na sy wil vir my lewe te soek? Om te vra en te luister na dit wat Hy eintlik vir my wil sê?
 
Die ironie is dat ek wéét, wanneer ek God meer gereeld “opsoek”, is dit baie meer bevredigend en vervullend as al die ander materialistiese dinge wat ek so dikwels soek, soek, soek.
 
Gebed: Here, dankie dat U nooit ophou om na ons te soek nie. Help my om ook aan te hou om na U te soek, elke dag, maak nie saak waar ek my bevind nie. Amen.