Charlea Grey 

As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê! Matteus 13:9, Bybel vir Almal
 
Die storie van die saaier is ook ’n bekende verhaal, maar dit was vir my nog altyd een van die gelykenisse wat ’n bietjie moeiliker is om te verstaan. Dit gaan oor ’n boer wat saad in sy lande gesaai het.
 
Van die saad het op die pad geval maar die voëls het die saad opgepik.
 
Van die saad het op ’n groot klomp klippe geval, daar was nie baie grond nie. Die saadjies het vinnig opgekom, maar toe dit warm raak, het die plantjies uitgedroog want hul wortels was nie baie diep nie.
 
Van die saad het tussen die onkruid geval, maar daar was nie genoeg plek vir die saadjies om te groei nie.
 
Tog was daar van die saad wat in die lande geval het, daar waar daar genoeg goeie grond was – grond wat gereed was vir die saad om daar te groei. Daardie sade kon ontkiem en die koring kon mooi opkom.
 
As God se Woord die saad is wat gesaai word, beteken dit ons moet seker maak ons harte is oop om God se stem te hoor. Ons moet hoor wat God in sy Woord vir ons sê.
 
Is jou hart en gemoed oop? Maak jy seker dat jy aan God se boodskap blootgestel word?
 
As ons na God se stem wíl luister, dan is ons soos vrugbare grond wat koring kan laat groei. Dit beteken ons kan ’n positiewe lewe leef, ’n lewe volgens God se wil
 
Maar dit beteken ons moet onsself blootstel aan God se Woord en stem, ons moet tyd maak om daaroor te lees, daarna te luister en daaroor na te dink.
 
Dis iets wat ons so maklik aan die begin van die jaar prioritiseer, of wanneer dit swaar gaan of wanneer ons of ’n geliefde gesondheidsprobleme het. Kom ons probeer om dit elke week ’n prioriteit te maak. Inteendeel, kom ons maak ons harte elke dag oop sodat ons sy stem kan hóór en dit in ons lewe kan groei. So geil soos ’n goeie koringoes.
 
Gebed: Dankie Here dat u Woord daar is vir ons om te hoor. Help my om my hart en gemoed oop te maak en u stem te hoor sodat ek kan lewe soos U wil hê ek moet. Amen.