Vers n dag - 30 Januarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 13: NUWE HOOP... IN TYE VAN VERLIES EN HARTSEER
Deur Benescke Janse van Rensburg
Aan die begin van die jaar gesels ek met ’n vrou wie se skoonheid en sprankelende persoonlik my altyd inspireer. Dié keer was haar sprankel weg en ek het gewonder wat aangaan. Geskok moes ek uitvind dat haar seun, wie einde verlede jaar sy matriekeindeksamen afgelê het, kort voor Kersfees in ’n motorongeluk gesterf het en dat hulle hom op die dag wat die matriekuitslae bekend gemaak is, moes begrawe. Terwyl die trane oor haar wange vloei, was ek skielik sprakeloos. Wat sê mens vir iemand wat nooit weer haar lieflingseun teen haar sal kan vasdruk nie?
’n Dag later het ek ’n e-pos van ’n leser ontvang wat vertel hoe sy, ’n 30 jarige vrou, op 6 Desember verlede jaar na werk op haar 38-jarige man se lyk by die huis afgekom het. ’n Bloedklont is deur sy hart. Haar woorde aan die einde van haar e-pos het my diep geraak: “My beste maat, met wie ek vir tien jaar getroud was, is skielik van my af weggeruk en ek benodig nuwe hoop om aan te gaan met my lewe. Help asseblief!”
Wanneer iemand sterf, is daar altyd twee kategorieë mense. Diegene wat alleen agterbly en die pyn en verlies moet verwerk en diegene wat die eerste groep mense wil bystaan en ondersteun, maar nie altyd seker is wat die regte manier is om dit te doen nie.
Vir diegene wat agterbly: Dit is normaal om emosies van skok, woede, ontkenning en miljoene vrae te ervaar. Ook is dit normaal om jouself aan die slaap te huil, sommige oggende nie uit die bed te wil opstaan nie en te wonder of die pyn in jou hart ooit sal beter word.
Om effektief te rou oor die verlies van ’n geliefde neem tyd, maar kies om nie bitter te word nie. Vra God om jou te help om nie fokus te verloor van wat jy nog het deur konstant te fokus op wat jy verloor het nie.
Onthou, Hy is naby aan jou – al voel dit nie so nie. En as jy huil, pyn sy hart en daarom wil Hy jou deur sy Heilige Gees vertroos. In Mattheus 5:4 lees ons immers: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” In Hebreërs 13:5 verseker Hy ons dat ons nie alleen is in die tyd nie: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” En in Psalm 34:19 bevestig die Psalmdigter: “Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.” (1953-hersiening).
Selfs al kan jy dus net die woord “Jesus” tussen jou trane fluister, doen dit. Hy hoor en ken jou hart. Jesus het immers dieselfde emosie by sy vriend Lasarus se graf ervaar. En meer as dit, Hy het vrywilliglik sy lewe vir ons opgegee omdat Hy geweet het dat dit die enigste uitweg sou wees dat ons die Heilige Gees, ons Trooster, sou kon ontvang om ons deur enige uitdaging en seer te help!
Vir diegene wat wil help: In die Joodse kultuur is daar ’n gebruik bekend as “om Shiva te sit”. Wanneer iemand ’n geliefde verloor het, daag jy as vriend of vriendin by daardie persoon se huis op. In stede daarvan om raad te gee, sit jy bloot doodstil saam met daardie persoon. As hy of sy wil praat, praat jy terug, maar dit is jou stille teenwoordigheid eerder as jou woorde wat ondersteuning bied en heling bring.
Ook, in stede daarvan om te vra dat diegene wat die verlies ervaar jou moet laat weet as daar iets is wat hulle benodig, kan jy eerder self die behoeftes bepaal en vervul. As die gras byvoorbeeld gesny moet word, sny dit. As daar nie kos in die huis is nie, neem vir hulle kos. En as die huis skoongemaak moet word, doen dit of reël dat iemand dit doen.
Moet ook nie vergeet om vir diegene in rou te bid nie. Jou gebede hou hulle arms omhoog en help hulle om nie perspektief in die seerste tyd van hulle lewens te verloor nie.
Die slotsom is dus dit: Selfs al voel die huidige seer of verlies in jou lewe oorweldigend. Onthou, dit is net tydelik. In Openbaring 21:4 lees ons iets van die ewigheid: “Hy (God) sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” Mag jy sy teenwoordigheid saam met jou beleef vandag en ervaar hoe Hy nuwe hoop in jou hart kom plaas wanneer jy nie meer weet watter kant toe nie. Hy kan dit doen. Sterkte!
Vader God, baie dankie vir u teenwoordigheid in die seerste tye van my lewe. Help my om nie fokus te verloor van wat ek steeds het – selfs al voel my verlies my wil oorweldig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.